DIE
KREUPELE VANG DIE KRUPPELE
Oom
Pieter, ‘n boer in die distrik, vra dat oom Sarel kom help: Die jakkals het al
vier van sy vleismerino slaghammels in
die kampie by sy huis gevang. Die kampie
is naby die huis en heeltemal verlig in die aand. Nogtans het dit nie die
jakkals afgeskrik nie. Die jakkals is ‘n uitgeslape kalant as hy so mak is.
Dis
Winter en baie koud die aand. Daar is nie ‘n windjie wat roer nie. Hulle gaan vanaand die jakkals lekker op sy
herrie gee. Oom Sarel is lus vir hom. Die hammels van oom Pieter kos hom ten
minste Ses Honderd Rand elk. Dis baie groot skade. ‘n Mens kan nie sulke skade
ongestoord laat voortgaan nie.
Oom
Sarel konsentreer op die pad. Die pad is
sleg en vol slaggate. Die pad maak ook sandwalle. Hy moet mooi ry as hy by
hulle kom. As hy ‘n sandwal verkeerd
tref, gooi dit hom sommer maklik uit die pad. Hy kan nie te vinnig ry nie en
moet baie versigtig wees. Hy kan sy voertuig maklik op sy dak neersit as hy nie
kyk wat hy doen vanaand nie. Hy moet kort kort uitswaai vir die slaggate en die
sandwalle in die pad.
Op
pad na oom Pieter ry Boesie agter op die bakkie. Toe oom Sarel by sy bestemming
aankom, is Boesie skoonveld. Oom Sarel het langs die pad gestop en pad gevra by
mense. Miskien het hy daar afgeklim. Hy is dadelik baie bekommerd oor sy
hondjie. Hy ry terug op die pad soos hy gekom het. ‘n Paar kilometer terug kry hy hom waar hy
afgeval het. Hy het na mense langs die
pad gestap wat hom opgetel en hom gehelp het.
Hulle het gesien wat gebeur, maar kon nie vir oom Sarel keer nie. Hy was
te vinnig by hulle verby. Boesie het sy balans verloor en afgeval toe oom Sarel
vir ‘n slaggat uitgeswaai het. Hy het sy agterbeen by die heup gebreek. Dit is
nou ‘n hartseer saak. Hy is lief om met
sy voorpote op die kant van die bakkie te staan, met sy agterbene op die hobbel
bokant die agterwiele. Hy is al baie
daaroor berispe. Vanaand was dit donker en oom Sarel kon nie sien wat hy
aanvang en hom aanspreek nie. Oom Sarel is baie jammer omdat Boesie seergekry
het.
Gelukkig
groei Boesie se been gou aan. Dis nie lank nie, of hy kan al weer op die poot
trap. Soos hy sterker word, kan hy later
weer hardloop met die seer been. As hy
iets jaag, trap hy op die poot. As hy gewoonweg hardloop, spaar hy die been en hardloop
op drie bene. Oom Sarel is baie jammer
vir hom. As die wiele draai in die aand, wil Boesie nie meer by die huis bly
nie.
Oom
Piet vra dat hulle weer moet kom help op Ortona. Die jakkals het al weer ‘n paar
lammers gevang. Oom Piet wil vanaand net
met die roep apparaat gaan ry. Hulle
maak reg op Palmietpan vir die jag. Boesie neem sy kans waar. Toe hulle besig
is om die skietgoed op te laai, spring hy stilletjies agter op die bakkie en
kruip daar tussen die skietgoed weg. Bo-op
die bult by Ortona se hek, ontdek hulle hom.
“Hy kan nou maar saam ry want hy is tog hier. Miskien kry hulle hom tog
nodig. Hy moet tog asseblief nie weer
seer kry nie,” oom Sarel is baie jammer vir sy brakkie.
Hulle
ry agter in Ortona. Daar kry hulle ‘n draaijakkals aan die anderkant kant van
die kamp se draad. Die jakkals is nie
wild nie. Hy staan skuins voor die bakkie in die lang gras. Oom Sarel is
oorgerus. Dis ‘n maklike skoot. Hy skiet. Dis mis! Boesie spring van die bakkie
af toe die skoot klap. Hy wil homself bewys vanaand. Hy is nie oor die muur na
sy ongeluk nie. By die plek gekom waar die jakkals was, vat hy die spoor agter
die jakkals aan.
Die jakkals hardloop ‘n wye draai, agter die
bakkie om. Hy steek skuins agter die
bakkie vas. Dis nou vinnig skiet vir oom Sarel. Boesie is op pad en kan die
jakkals skrik maak. Dan hardloop hy weg. Die gras is lank waar die jakkals
staan. Oom Sarel sien net sy oë. Die skoot klap en daar lê die jakkals. Dis nie die eerste keer dat oom Sarel ‘n
jakkals wat te naby is eers aansê om verder te skuif voor hy hom skiet nie.
Oom
Sarel klim af om die jakkals te gaan haal. Hy vat ‘n graaf om hom klaar te maak
indien nodig. Hy klim deur die draad.
Toe hy naby kom, spring die jakkals op en laat spaander. Boesie het ook net so pas bygekom en storm
agter die jakkals aan. Die gras is baie
lank. Oom Sarel hoor net die twee in die gras voor hom spook. Oom Piet sien die beweging in die gras en lig
vir Boesie van die bakkie af.
Hulle hardloop ‘n hele ent weg. Toe oom Sarel
by hom kom, het hy die jakkals klaargemaak.
Oom Sarel vat die jakkals terug bakkie toe. Boesie is nie bietjie trots op homself
nie. Sy oubaas gee hom ‘n lekker vryf en
prys hom.
Toe
hulle mooi kyk in die lig by die bakkie, sien hulle die jakkals se agterbeen is
afgeskiet. Hulle gooi die jakkals op die
bakkie en besluit om eers tee te drink voor hulle verder ry. Toe die eerste soet koekie van tannie Rina se
baas baksel in die kele verdwyn, is die manne baie tevrede met hulle self. Boesie is ‘n ramkat en hy kry ook ‘n spesiale stukkie.
Dit
was vanaand ‘n uitsonderlike prestasie. Die kreupele (waarvan die been lankal
gebreek het), het vanaand die kruppele gevang (Wat so pas sy been gebreek het).
Boesie is weer sy ou self. Hy is ‘n
regte doring.