Friday, 2 November 2012

Die kreupele vang die kruppele




DIE KREUPELE VANG DIE KRUPPELE

Oom Pieter, ‘n boer in die distrik, vra dat oom Sarel kom help: Die jakkals het al vier van sy  vleismerino slaghammels in die kampie by sy huis gevang.  Die kampie is naby die huis en heeltemal verlig in die aand. Nogtans het dit nie die jakkals afgeskrik nie. Die jakkals is ‘n uitgeslape kalant as hy so mak is.

Dis Winter en baie koud die aand. Daar is nie ‘n windjie wat roer nie.  Hulle gaan vanaand die jakkals lekker op sy herrie gee. Oom Sarel is lus vir hom. Die hammels van oom Pieter kos hom ten minste Ses Honderd Rand elk. Dis baie groot skade. ‘n Mens kan nie sulke skade ongestoord laat voortgaan nie. 

Oom Sarel konsentreer op die pad.  Die pad is sleg en vol slaggate. Die pad maak ook sandwalle. Hy moet mooi ry as hy by hulle kom.  As hy ‘n sandwal verkeerd tref, gooi dit hom sommer maklik uit die pad. Hy kan nie te vinnig ry nie en moet baie versigtig wees. Hy kan sy voertuig maklik op sy dak neersit as hy nie kyk wat hy doen vanaand nie. Hy moet kort kort uitswaai vir die slaggate en die sandwalle in die pad.

Op pad na oom Pieter ry Boesie agter op die bakkie. Toe oom Sarel by sy bestemming aankom, is Boesie skoonveld. Oom Sarel het langs die pad gestop en pad gevra by mense. Miskien het hy daar afgeklim. Hy is dadelik baie bekommerd oor sy hondjie. Hy ry terug op die pad soos hy gekom het.  ‘n Paar kilometer terug kry hy hom waar hy afgeval het.  Hy het na mense langs die pad gestap wat hom opgetel en hom gehelp het.  Hulle het gesien wat gebeur, maar kon nie vir oom Sarel keer nie. Hy was te vinnig by hulle verby. Boesie het sy balans verloor en afgeval toe oom Sarel vir ‘n slaggat uitgeswaai het. Hy het sy agterbeen by die heup gebreek. Dit is nou ‘n hartseer saak.  Hy is lief om met sy voorpote op die kant van die bakkie te staan, met sy agterbene op die hobbel bokant die agterwiele.  Hy is al baie daaroor berispe. Vanaand was dit donker en oom Sarel kon nie sien wat hy aanvang en hom aanspreek nie. Oom Sarel is baie jammer omdat Boesie seergekry het.

Gelukkig groei Boesie se been gou aan. Dis nie lank nie, of hy kan al weer op die poot trap.  Soos hy sterker word, kan hy later weer hardloop met die seer been.  As hy iets jaag, trap hy op die poot. As hy gewoonweg hardloop, spaar hy die been en hardloop op drie bene.  Oom Sarel is baie jammer vir hom. As die wiele draai in die aand, wil Boesie nie meer by die huis bly nie.

Oom Piet vra dat hulle weer moet kom help op Ortona. Die jakkals het al weer ‘n paar lammers gevang.  Oom Piet wil vanaand net met die roep apparaat gaan ry.  Hulle maak reg op Palmietpan vir die jag. Boesie neem sy kans waar. Toe hulle besig is om die skietgoed op te laai, spring hy stilletjies agter op die bakkie en kruip daar tussen die skietgoed weg.  Bo-op die bult by Ortona se hek, ontdek hulle hom.  “Hy kan nou maar saam ry want hy is tog hier. Miskien kry hulle hom tog nodig.  Hy moet tog asseblief nie weer seer kry nie,” oom Sarel is baie jammer vir sy brakkie.

Hulle ry agter in Ortona. Daar kry hulle ‘n draaijakkals aan die anderkant kant van die kamp se draad.  Die jakkals is nie wild nie. Hy staan skuins voor die bakkie in die lang gras. Oom Sarel is oorgerus. Dis ‘n maklike skoot. Hy skiet. Dis mis! Boesie spring van die bakkie af toe die skoot klap. Hy wil homself bewys vanaand. Hy is nie oor die muur na sy ongeluk nie. By die plek gekom waar die jakkals was, vat hy die spoor agter die jakkals aan.

 Die jakkals hardloop ‘n wye draai, agter die bakkie om.  Hy steek skuins agter die bakkie vas. Dis nou vinnig skiet vir oom Sarel. Boesie is op pad en kan die jakkals skrik maak. Dan hardloop hy weg. Die gras is lank waar die jakkals staan. Oom Sarel sien net sy oë. Die skoot klap en daar lê die jakkals.  Dis nie die eerste keer dat oom Sarel ‘n jakkals wat te naby is eers aansê om verder te skuif voor hy hom skiet nie.

Oom Sarel klim af om die jakkals te gaan haal. Hy vat ‘n graaf om hom klaar te maak indien nodig.  Hy klim deur die draad. Toe hy naby kom, spring die jakkals op en laat spaander.  Boesie het ook net so pas bygekom en storm agter die jakkals aan.  Die gras is baie lank. Oom Sarel hoor net die twee in die gras voor hom spook.  Oom Piet sien die beweging in die gras en lig vir Boesie van die bakkie af.

 Hulle hardloop ‘n hele ent weg. Toe oom Sarel by hom kom, het hy die jakkals klaargemaak.  Oom Sarel vat die jakkals terug bakkie toe.  Boesie is nie bietjie trots op homself nie.  Sy oubaas gee hom ‘n lekker vryf en prys hom.

Toe hulle mooi kyk in die lig by die bakkie, sien hulle die jakkals se agterbeen is afgeskiet.  Hulle gooi die jakkals op die bakkie en besluit om eers tee te drink voor hulle verder ry.  Toe die eerste soet koekie van tannie Rina se baas baksel in die kele verdwyn, is die manne baie tevrede met hulle self.  Boesie is ‘n ramkat en hy kry ook ‘n  spesiale stukkie.

Dit was vanaand ‘n uitsonderlike prestasie. Die kreupele (waarvan die been lankal gebreek het), het vanaand die kruppele gevang (Wat so pas sy been gebreek het).   Boesie is weer sy ou self. Hy is ‘n regte doring.

No comments:

Post a Comment