Friday, 2 November 2012

Die twee-been jakkals




DIE TWEE-WIEL JAKKALS

Die jakkalse vreet weer op Donkerfontein.  Oom Piet kom op Palmietpan aangery met drie lammers agter op sy bakkie wat deur die jakkals gevang is.  Die een lam is al so groot dat jy hom kan slag en bemark.  Dis baie skade.  “Hier lê nou by ‘n Duisend Rand se skade agter op die bakkie,” sê hy vies.   Dis Desember maand en Tannie Liefie se kinders kuier op Palmietpan.  Sieg, Philip se ou skoolpêl, is ook hier.

Hulle reël gou ‘n jag op Houmoed van oom Dirk Linde vir die middag.  Daar aangekom word die aanjaers en voorstaanders  ingedeel.  Sieg en Magdel ry saam met oom Sarel. Hulle gaan in die klippe naby die “reguit” rantjie se punt voorkeer. Die jakkals kan op ‘n paar plekke naby hulle uitkom.  Daar is net een probleem:  Hulle het tussen die klippe ingery en sal baie versigtig moet wees as hulle moet begin jaag. Hier kan jy jou bakkie met die wegtrek  afskryf teen ‘n klip.  Hulle is baie wakker vanmiddag. Die jakkals het ‘n vorige keer hier uit gehardloop en weg gekom.  Die jagters kon hom nie gou genoeg bykom tussen die klippe nie.

Die aanjaers begin hulle swepe klap en skree.  “Nou moet ons mooi kyk,” sê oom Sarel.  Die honde is mooi vasgemaak en almal is besig om die plek rondom hulle stip dop te hou.  Daar kom ‘n duiker verby gehardloop.  Hulle sien hom gelukkig betyds en praat met die honde dat hulle nie te veel moet raas nie.  “Julle moet mooi kyk,” sê oom Sarel ‘n tweede keer. Die jakkals kan nou enige tyd hier voor ons uitkom.  Ons het nie baie plek om die honde op hom te sit hier tussen die klippe en so naby aan die draad nie”.

Hulle kyk rondom hulle. Hulle blik gly na hulle mede voorstaanders.  Jy moet hulle altyd in die oog hou. Baie keer sien hulle voor jou die jakkals uitkom.  Die ander ouens is nog rustig. Die son bak heerlik warm agter op die bakkie.  Die honde begin warm kry van die stil staan in die son. Hier en daar wil een in die ander se skadu wegkruip. Hulle vroetel ‘n bietjie te veel na oom Sarel se sin.  Hy praat met hulle. Dan is alles weer doodstil.

Toe oom Sarel weer opkyk, kom die jakkals honderd en vyftig treë van hulle af, rustig uit die bossies gestap.  Hy is nie haastig nie.  Hy kyk om en luister na die aanjaers.  Dan kyk hy eers weer ‘n slag rond en snuif die lug.  Hy vermoed geen onraad nie.  Hy beweeg ‘n entjie vorentoe en staan eers weer die lug en snuif.  Iets trek sy aandag op die grond. Hy skuif nader en ruik daar. Kyk weer op. Kyk en luister en ruik. Hy is ‘n ware pronkstuk van die natuur.

Die jakkals beweeg weer vorentoe. Hy beweeg baie snaaks.  Oom Sarel wat gewoond is om vir kruppel skape in die kraal te kyk, sien dadelik dat daar iets skort met die jakkals se beweging.  Verder lyk dit nie of daar iets verkeerd is met hom nie.  Sy kondisie is goed. 

Die aanjaers klap en raas. Hulle kom steeds nader.  Die jakkals kyk weer om en besluit dan om ‘n bietjie vinniger te verskuif. “Staan doodstil! Hier kom die jakkals!” sê oom Sarel vir Sieg en Magdel.  “Hou die honde vas.  Moenie beweeg nie. Kyk dat julle die knoop van die honde se tou in die hande kry”. Reën die opdragte.  Sieg en Magdel verstyf in hulle spore.  Hulle harte begin vinniger klop. Hulle hou die jakkals angstig dop.  Dit lyk asof alles rondom hulle tot stilstand gekom het.  Hulle harte bons in hulle kele.  Die jakkals het nou nog  nader gekom. Hy is nie eers meer as tagtig treë van hulle af nie.

Die jakkals het nog nie die blou Nissan bakkie met die jagters op, voor hom opgemerk nie.  Die bakkie staan oop en bloot.  Daar is niks tussen hulle en die jakkals nie. Hulle moet die jakkals nog net ‘n bietjie nader laat kom.  As hy nou omspring kan hy nog die bosse haal voordat die honde hom kan vang.  Die spanning word amper ondraaglik.  Die sukses van hierdie jagtog word op ‘n mes punt geballanseer.  Enige iets kan nou gebeur.  Die jakkals kan wegkom as hy nog betyds die bosse kan haal.  Of hulle kan hom vang as hy nog ‘n bietjie verder van die bosse af kan kom. Elke sekonde voel soos ure.

Dan beweeg die jakkals weer vorentoe. Hy is nou nie meer as vyftig treë van die bakkie af nie.  Oom Sarel probeer die honde se aandag trek en sê saggies vir hulle: “Chaauuw”.  Daar is nie genoeg volume en emosie saam met die bevel nie.   Hulle lig nie eers hulle koppe op nie.  Die jakkals kom nog nader.  Sieg dink oom Sarel sê dis tyd om te storm.

Sieg spring van die bakkie af en skree: “Chaauuw!” Die honde spring verward agterna.  Sieg vat grond en laat spaander agter die jakkals aan.  Die honde storm saam en sien die jakkals.  Soos ‘n koeël uit ‘n geweer skiet hulle vorentoe agter die jakkals aan.  Hulle los vir Sieg agter en loop die jakkals in.  Toe hy die eerste bosse haal, is Buks op hom. Hulle gee nog ‘n draai of twee met hom tussen die bosse en klippe. Toe klap sy skoot.

Sieg storm opgewonde agterna.  Dis nou opwindend! Hy is so opgewonde. Toe hy by die honde kom, het hulle die jakkals klaargemaak.  Sieg bring die jakkals bakkie toe. Elkeen wil sy weergawe van die storie eerste vertel.  Dit was amper. Nie een het ‘n voet verkeerd gesit nie. Hierdie jakkals kon so maklik wegkom. Maar hy het nie. Hulle het hulle jakkals gevang. Hulle is baie trots op hulle self.

‘n Jakkals het ook beperkings.  Sy oog is veral ingestel om beweging op te vang. Omdat niemand beweeg het nie, het hy hulle nie gesien nie. ‘n Jakkals se ruik is fantasties.  As hy eers jou ruik opgetel het, kies hy die hasepad.  Alles het vandag in die jagters se guns verloop. Hulle het stigestaan en was bokant die wind.

Terwyl hulle nog so praat, sien oom Sarel ‘n snaakse ding aan die jakkals. “Waar is jakkals se een voorpoot?” vra hy. By nadere ondersoek blyk dit dat die jakkals se een voorpoot, in die gewrig bo die poot af is. Daar is nog net ‘n stompie waar daar eens ‘n poot was. 

 Hulle kyk die jakkals nog verder deur. Aan die teenoorgestelde kant is die agterpoot onder die haakskeen sening gebreek.  Iemand moes sy agterpoot af geskiet het. Die agterpoot is nutteloos en hang net aan die vel.  Hy het nie pyn verduur nie, want die wond was lankal gesond.  Hierdie jakkals het net op twee bene beweeg.  Nogtans het dit hom blykbaar nie veel gepla nie.  Sy kondisie was goed.  Hy kon nog vinnig hardloop met sy twee bruikbare pote.

Hoe het die jakkals aan die lewe gebly?  Kon hy nog self klein knaagdiere, voëls en insekte vang vir kos?  Het hy ‘n maat gehad wat hom gehelp het?   Hulle besef hulle is so bevoorreg.  Hier aanskou hulle ‘n wonderlike stukkie oorlewingsvermoë en aanpassing in die natuur.  Ten spyte van die jakkals se twee af bene, het hy heeltemal goed oorleef.  “As die Here dan so vir ‘n jakkals kan sorg, hoeveel meer kan Hy nie vir ons doen nie?” wonder Magdel.

Toe almal weer by mekaar is, word daar heerlik met die drie gespot.  Sieg se sprong en oom Sarel en Magdel se gille om die honde aan te moedig, sal nog lank daar in die lug bly hang.  “Al wat julle kon regkry, was om ‘n “twee been” jakkals te vang, is daar vir hulle gesê.  “Twee bene of te not,” ons het ons jakkals gevang en waar is julle s’n miskien?” was hulle enigste reaksie.

Hoe ver sou hierdie jakkals kon loop om te gaan kos soek in die nag? Was hy ook een van die sondebokke wat oom Piet soveel skade berokken het?  Die feit dat hierdie jakkals kon oorleef in die natuur en so goed daar uitsien, het almal verbaas.  Dit was een van hulle eietydse wonders wat hulle kan aanskou.  Niemand sal jou glo as jy hulle vertel van hierdie jakkals nie. Ongelukkig is daar nooit ‘n foto geneem om die verhaal te bevestig nie.

No comments:

Post a Comment