Friday, 2 November 2012

Die kreupele vang die kruppele




DIE KREUPELE VANG DIE KRUPPELE

Oom Pieter, ‘n boer in die distrik, vra dat oom Sarel kom help: Die jakkals het al vier van sy  vleismerino slaghammels in die kampie by sy huis gevang.  Die kampie is naby die huis en heeltemal verlig in die aand. Nogtans het dit nie die jakkals afgeskrik nie. Die jakkals is ‘n uitgeslape kalant as hy so mak is.

Dis Winter en baie koud die aand. Daar is nie ‘n windjie wat roer nie.  Hulle gaan vanaand die jakkals lekker op sy herrie gee. Oom Sarel is lus vir hom. Die hammels van oom Pieter kos hom ten minste Ses Honderd Rand elk. Dis baie groot skade. ‘n Mens kan nie sulke skade ongestoord laat voortgaan nie. 

Oom Sarel konsentreer op die pad.  Die pad is sleg en vol slaggate. Die pad maak ook sandwalle. Hy moet mooi ry as hy by hulle kom.  As hy ‘n sandwal verkeerd tref, gooi dit hom sommer maklik uit die pad. Hy kan nie te vinnig ry nie en moet baie versigtig wees. Hy kan sy voertuig maklik op sy dak neersit as hy nie kyk wat hy doen vanaand nie. Hy moet kort kort uitswaai vir die slaggate en die sandwalle in die pad.

Op pad na oom Pieter ry Boesie agter op die bakkie. Toe oom Sarel by sy bestemming aankom, is Boesie skoonveld. Oom Sarel het langs die pad gestop en pad gevra by mense. Miskien het hy daar afgeklim. Hy is dadelik baie bekommerd oor sy hondjie. Hy ry terug op die pad soos hy gekom het.  ‘n Paar kilometer terug kry hy hom waar hy afgeval het.  Hy het na mense langs die pad gestap wat hom opgetel en hom gehelp het.  Hulle het gesien wat gebeur, maar kon nie vir oom Sarel keer nie. Hy was te vinnig by hulle verby. Boesie het sy balans verloor en afgeval toe oom Sarel vir ‘n slaggat uitgeswaai het. Hy het sy agterbeen by die heup gebreek. Dit is nou ‘n hartseer saak.  Hy is lief om met sy voorpote op die kant van die bakkie te staan, met sy agterbene op die hobbel bokant die agterwiele.  Hy is al baie daaroor berispe. Vanaand was dit donker en oom Sarel kon nie sien wat hy aanvang en hom aanspreek nie. Oom Sarel is baie jammer omdat Boesie seergekry het.

Gelukkig groei Boesie se been gou aan. Dis nie lank nie, of hy kan al weer op die poot trap.  Soos hy sterker word, kan hy later weer hardloop met die seer been.  As hy iets jaag, trap hy op die poot. As hy gewoonweg hardloop, spaar hy die been en hardloop op drie bene.  Oom Sarel is baie jammer vir hom. As die wiele draai in die aand, wil Boesie nie meer by die huis bly nie.

Oom Piet vra dat hulle weer moet kom help op Ortona. Die jakkals het al weer ‘n paar lammers gevang.  Oom Piet wil vanaand net met die roep apparaat gaan ry.  Hulle maak reg op Palmietpan vir die jag. Boesie neem sy kans waar. Toe hulle besig is om die skietgoed op te laai, spring hy stilletjies agter op die bakkie en kruip daar tussen die skietgoed weg.  Bo-op die bult by Ortona se hek, ontdek hulle hom.  “Hy kan nou maar saam ry want hy is tog hier. Miskien kry hulle hom tog nodig.  Hy moet tog asseblief nie weer seer kry nie,” oom Sarel is baie jammer vir sy brakkie.

Hulle ry agter in Ortona. Daar kry hulle ‘n draaijakkals aan die anderkant kant van die kamp se draad.  Die jakkals is nie wild nie. Hy staan skuins voor die bakkie in die lang gras. Oom Sarel is oorgerus. Dis ‘n maklike skoot. Hy skiet. Dis mis! Boesie spring van die bakkie af toe die skoot klap. Hy wil homself bewys vanaand. Hy is nie oor die muur na sy ongeluk nie. By die plek gekom waar die jakkals was, vat hy die spoor agter die jakkals aan.

 Die jakkals hardloop ‘n wye draai, agter die bakkie om.  Hy steek skuins agter die bakkie vas. Dis nou vinnig skiet vir oom Sarel. Boesie is op pad en kan die jakkals skrik maak. Dan hardloop hy weg. Die gras is lank waar die jakkals staan. Oom Sarel sien net sy oë. Die skoot klap en daar lê die jakkals.  Dis nie die eerste keer dat oom Sarel ‘n jakkals wat te naby is eers aansê om verder te skuif voor hy hom skiet nie.

Oom Sarel klim af om die jakkals te gaan haal. Hy vat ‘n graaf om hom klaar te maak indien nodig.  Hy klim deur die draad. Toe hy naby kom, spring die jakkals op en laat spaander.  Boesie het ook net so pas bygekom en storm agter die jakkals aan.  Die gras is baie lank. Oom Sarel hoor net die twee in die gras voor hom spook.  Oom Piet sien die beweging in die gras en lig vir Boesie van die bakkie af.

 Hulle hardloop ‘n hele ent weg. Toe oom Sarel by hom kom, het hy die jakkals klaargemaak.  Oom Sarel vat die jakkals terug bakkie toe.  Boesie is nie bietjie trots op homself nie.  Sy oubaas gee hom ‘n lekker vryf en prys hom.

Toe hulle mooi kyk in die lig by die bakkie, sien hulle die jakkals se agterbeen is afgeskiet.  Hulle gooi die jakkals op die bakkie en besluit om eers tee te drink voor hulle verder ry.  Toe die eerste soet koekie van tannie Rina se baas baksel in die kele verdwyn, is die manne baie tevrede met hulle self.  Boesie is ‘n ramkat en hy kry ook ‘n  spesiale stukkie.

Dit was vanaand ‘n uitsonderlike prestasie. Die kreupele (waarvan die been lankal gebreek het), het vanaand die kruppele gevang (Wat so pas sy been gebreek het).   Boesie is weer sy ou self. Hy is ‘n regte doring.

Hartseer en trane











HARTSEER EN TRANE……

Philip is baie lief vir Ciska. Sy is ‘n pragtige hond. As sy hom waar ookal sien aankom, hardloop sy nader om vir hom aandag te kom gee. Sy het dit regtig geniet om te hardloop. En hardloop kon sy baie goed doen.  Die twee honde was op die stadium net oor ‘n jaar oud.  Die honde was al lankal klaar deel van die gesin. Hulle word soos jou kinders as jy elke dag met hulle werk.

Honde is ook net soos kinders. Hulle hou daarvan om mekaar strepe te trek. Geniet dit om mekaar te terg. Boelie mekaar as hulle die kans kry.  Alles in ‘n goeie gesindheid.

Die honde is baie goed gedissiplineer.  Jy het nie nodig om met hulle te raas of hulle te slaan nie. Hulle luister en is ‘n groot plesier op die plaas. Hulle bly op die bakkie as jy ry en spring nie sommer self af nie.  Veral in die groot pad word hulle nooit toegelaat om af te spring nie.  Hulle wag eers op die bakkie totdat jy deur ‘n hek in die veld ingaan, voordat hulle afspring.

Oom Sarel en Philip ry een oggend weer met die honde om te gaan kyk na die skape op Bosplaat. Die gesig wat hulle daar begroet, is nie goed nie. Daar is twee ooie met stywe uiers wat loop en blêr.  Hulle ry die kamp deur en kry die lammers waar hulle gevang is. Nogal twee sterk lammers. Dit was nie ‘n draaijakkals se werk nie. Dit kon net die blourug wees wat soveel skade kon aanrig.  Oom Sarel kry die ooie baie jammer.  Hulle loop elke lam in die trop wat hulle kry, by en kyk of dit nie hulle s’n is nie.  Dit ruk jou aan jou hart om die verskeurde moeder liefde te sien.

“Ons sal vanaand weer ‘n draai moet gaan ry. Ek weet nie waarvandaan kom die jakkals nie,” dink oom Sarel. Die moeilikheid hou ook nooit op nie!   Jy kan ook nie die ooie in die veld elke aand in die kraal laat slaap nie. Dis heeltemal onprakties op die deel van die plaas.

Met hulle gedagtes vol van die skade op Bosplaat, ry hulle terug Palmietpan toe.  Hulle nader die hek van Palmietpan. Philip moet wag vir ‘n kar wat moet verbykom voordat hy kan indraai by die plaashek.  Ciska spring af, reg voor die aankomende voertuig in.  Die outjie is op pad Bloemfontein toe. Hy is baie haastig en ry dat dit bars. Toe sy voor hom inspring skop hy brieke vas en skuif honderd en tien treë met fluitende remme.  Hy slaan vir Ciska dat sy honderd en dertig treë ver skuif.  Hy lig sy voet van die briek en hou nog vyftig treë
verder stil.

Oom Sarel spring uit, toe hy die stamp hoor.  Hy hoor net die bande fluit en sien Ciska agter die kar aan skuiwe.  Philip is in ‘n toestand. Sy lieflingshond is getrap. Hy voel lus en doen iets aan die ou wat so gejaag het.  Hulle skuif dadelik die bakkie en honde uit die pad.  Die werksmense op die plaas het die ongeluk gehoor en kom aangehardloop om te kom help.  Daar lê Ciska morsdood. Die ander honde word afgelaai en huistoe gejaag.  Hulle draai om met die bakkie laai vir Ciska op en vat haar huistoe. Gelukkig het niemand anders seer gekry nie. Die kar staan en oom Sarel sleep hom in dorp toe.

Hierdie ongeluk was ons eerste groot hartseer met ons honde.  Nie een hond spring ooit in die ry af nie. Hulle weet hulle moenie. Wat het haar laat besluit om af te spring? Het sy miskien ‘n rooi meerkat by die hek gesien wat sy wou jaag?  Die antwoord sal ons nooit weet nie.

Ciska is dood en niks kan haar terugbring nie.  Dit het gevoel soos een van die familie lede wat weg is. Hulle begrawe haar op ‘n ereplek in die tuin.  Sy was die eerste een om die “helde akker” vir Palmietpan se honde te open.  Daardie aand word daar nie gery nie. Almal is te ontsteld.  Hulle moes eers weer tot verhaal kom.

As ‘n mens veg vir jou eie en jou diere se oorlewing, mobiliseer ‘n mense baie energie.  Dit vat moeite en deursettingsvermoë om na jou boerdery om te sien.  Om twee, drie keer of elke aand in die week te ry na ‘n dag se harde werk. Jy moet gaan om die ondiere van die vee weg te hou. Anders ly jy baie skade. 

Om gif te gebruik om plaagdiere te bestry, is heeltemal onaanvaarbaar. Te veel onskuldige diere en voëls bly ook in die slag op die manier.  Te veel onskuldige diere kry ook skade met slagysters as jy nie mooi weet hoe en waar om dit te stel nie.

As boer werk jy baie met lewe en dood. Jy sien baie diere gebore word en doodgaan. Jy besluit watter diere gaan slagpale toe. Jy weet hulle gaan daar doodgemaak word.  Dis al klaar ‘n moeilike konsep om te hanteer. Maar dis deel van die boer se lewe. 

Soms kom die dood net te na aan jou. Dan pik jy nie net ‘n traan weg nie. Dan huil jy hardop oor alles wat deel vorm van ons gebroke lewe op aarde. Ja, dan huil jy ook oor die jakkalse wat jy moet vang en vankant maak in jou poging om self te oorleef.  Dan is die jag nie ‘n sport of plesier nie. Dan wens jy daar was ander oplossings met minder intense emosies.  Want die dood gaan altyd gepaard met hartseer vir die mens.