Thursday, 3 January 2013

Oom Piet se natuurbewaringshonde



                 OOM PIET SE NATUURBEWARINGSHONDE

Philip, oom Sarel se seun, het die Saterdag saam met ander Philip van Beefmaster en nog ander maats Philip se geweer kom instel op Palmietpan.  Hulle moes gou teruggaan want hulle moes weer voor sluitenstyd by die werk wees.  So tussen die skiet deur het ou Moeder vir ons pannekoek gestuur.  Die weer was besig om te verander. Daar was reën op pad.

Dit het Vrydagaand vroegaand al begin reën.  Die jakkalse het by oom Piet op Conovium weer die nag gevang so 300 m van Ortona se rantjie teen die Bultfontein teerpad.  Saterdagaand het oom Piet vir oom Sarel  kom oplaai om te gaan kyk of hulle die jakkalse kry en ook die Rooikat wat agter op Ortona teen Hannes se bosse weer ‘n ooi gevang het.

Oom Piet het oom Sarel by die huis kom haal met sy bakkie.  Hy het sommer dadelik begin lig toe hulle ry.  Hulle is met die teerpad na die rantjie toe waar die jakkalse gevang het.  By die rantjie speel hulle die kasset maar kry niks.  Toe hulle omdraai op pad na die lande toe, kry hulle die twee blourugge 200 tree onderkant die rantjie.  Hulle is te ver om te skiet of om seker te maak dat dit hulle is.  Hulle het weer die kasset gespeel maar die musiek kon die jakkalse nie nader kry nie.  Hulle het net verder padgegee.

Hulle los eers die jakkalse en ry agter na Ortona toe.  Hulle het met die inry sommer links gehou en omgery na Giep se kant toe.  Agter teen die weiding sien hulle ‘n oog in die paadjie tussen die lande.  Toe hulle die oog sien, maak oom Sarel die ligte van die bakkie dood en hulle ry nader.  Toe hulle so 150 tree van die oog af is, sien hulle dis ‘n maanhaar.  Bloemfontein, oom Piet se een windhond spring af om ondersoek in te stel.  Hy kry die maanhaar en begin hom jaag.  Die maanhaar vlieg om en storm hom.  Hy gryp die maanhaar aan die boude. Die maanhaar gryp hom aan die neus. So begin die oor en weer jaag en byt.  Hulle is later hier by die bakkie teen die draad.  Die maanhaar storm weer en Bloemfontein vlieg weg teen die draad vas.  Die maanhaar gee pad en Bloemfotin kom klim weer op die bakkie.  Oom Piet is erg onthuts oor die hond wat gewoonlik ‘n blourug kan vat, vanaand niks met ‘n maanhaar kan regkry nie.

Hulle ry weer om die lande en kry niks.  Hulle kom teen van kamp langs Giep af en maak hulle draai daar onder teen die draad.  Hulle kom toe weer terug langs die land se punt opgery.  Hulle sien weer ‘n maanhaar en Oom Piet los vir Juffrou Bester.  Sy storm die maanhaar en na hulle ontmoeting kom sy terug en kom spring weer op die bakkie terwyl die maanhaar vir ons staan en kyk.  Oom Piet sê hy kan doen sonder sulke treurige honde. Oom Sarel sê toe vir hom: ”Jy het goeie natuurbewaringshonde.  Hulle los die maanhare maar vang die jakalse.”  Oom Piet gee net ‘n snork van verontwaardiging.  Hulle ry toe terug pad toe en drink bo by die dam tee.

Hulle het van die bult af, deur Ortona, langs die onderste land afgery maar niks gekry nie.  Toe hulle onder by die Gwarrie weer in die pad kom, sê oom Piet hulle moet net weer gaan kyk wat was die oë wat hulle gesien het.  Toe hulle by die plek kom waar die jakkalse die vorige aand gevang het, kry hulle die jakkalse weer daar.  Oom Piet sê net: ”Stop! Hier is hulle!” oom Sarel vlieg uit met die ,243 geweer en sien hoe die een jakkals in die lig weghardloop.  Hy kyk deur die teleskoop.  Die gras is so lank dat oom Piet nie die jakkalse kan sien nie en oom Sarel beduie vir oom Piet waar hy moet lig.  Die jakkals hardloop tot bokant die vlei uit die lang gras en gaan staan dwars vir hulle en kyk.  Toe die skoot klap, is hy weg en oom Piet begin die ander een soek.  Hy sien hom nie 100 tree van hulle af steeds in die lang gras nie.  Die honde raak toe so onrustig op die bakkie dat oom Sarel nie kan skiet nie.  Hy sien net hoe hardloop die jakkals weg tussen die kruishare van die teleskoop.  Hulle roep hom met die kasset speler maar dit help niks nie.  Hy is weg.  Hy het die pad gevat.

Hulle gaan toe weer terug na Conovium se hek om aan die ander kant van die draad te kom.  Toe die manne weer daar kom waar hulle die jakkals gesien het, begin hulle hom soek na die vlei se kant toe.  Teen die vlei draai hulle links en ry teen die bosse langs terug.  Oom Piet klop op die dak en sê: ”Hier is die jakkals in die bosse voor ons.”  Oom Sarel is uit by die deur met die geweer in die hand.  Toe hy die jakkals weer soek, is hy weg. 

Oom Piet lig op en af in die bosse, maar dis doodstil.  Die volgende oomblik sien hulle die jakkals 70 treë regs van waar hy was, tussen die bosse.   Oom Sarel lê aan.  Die jakkals begin na regs draf aan die anderkant van die vleitjie.  Toe hy weer agter ‘n bos uitkom, fluit oom Piet vir hom.  Die jakkals gaan staan.  Oom Sarel lê aan. Toe hy die sneller druk, voel dit of die skoot nie wil afgaan  nie.  Hy kyk dat die slot behoorlik toe is.   Hy lê aan en skiet.  Die skoot klap en die jakkals skree en byt na sy boude se kant toe.  Oom Piet sê: ”Los die honde!”  Hy kan nie help nie want hy moet lig en en die honde ruk so aan die toue dat oom Sarel hulle nie kan loskry nie.  Gelukkig kry hy vir Vlam en Bloemfontein los.  Jufffou Bester trek so aan haar tou dat hy haar nie loskry nie.  Oom Piet sê : ”Ry nader!”  Die jakkals hardloop agter die bome in dan verloor ons hom!”  Oom Sarel spring in die bakkie en laat vat.  Gelukkig het die honde die jakkals toe al gevang maar hulle kry hom nie lekker onder nie.  Toe hulle by die honde stilhou, gryp die jakkals vir Bloemfontein aan sy neus.  Oom Piet los vir Juffrou Bester.  Bloemfontein tjank dat jy hom wie weet waar kan hoor.  Oom Piet sê vir hom: ”Dis jou verdiende loon!”  Jy weet mos nie waar om te byt nie.  Toe die jakkals hom los, vat hy die jakkals aan die keel.  Die honde maak hom klaar en hulle laai die jakkals op. hulle ry tot waar hulle die ander een geskiet het en laai die een ook op.

Oom Sarel sê vir oom Piet: ”Wat het ek vir jou gesê?  Hierdie honde is afgerig vir natuurbewaring.  Hulle los die Maanhaar, maar hulle weet wat om met ‘n blourug jakkals te maak wat hulle oubaas se lammers vang!”  Ons vat die jakkals huistoe dat Blessie en Een-Ogie, die twee Jack Russells hom verder ‘n les kan leer.  Die twee hou ook daarvan om ‘n byt in te kry op die jakkalse wat geskiet word.

Die manne het lekker gelag oor oom Piet se natuurbewaringshonde..  Hulle moes vanaand die kameras van 50/50 of Carte Blanche daar gehad het om te sien hoe word die dinge gedoen.  Hulle het die jakkalse lekker op hulle “watsum” gespeel.  Dis nie elke aand dat jy die mannetjie en die wyfie  jakkalse saam op die bakkie laat ry nie.


         MOET HULLE NIE MET DIE KRUIT BRAND NIE.

Dit is die Woensdagaand voor die skou van 1999.  Die dorper boere moes die volgende van hulle vee bring na die skou vir beoordeling.  Oom Piet het die middag al klaar sy bakkie se tralies opgesit vir die volgende dag se dinge.  Teen sononder bel oom Giep, sy buurman hom en sê die jakkalse skreeu baie daar agter teen Ortona.

Oom Piet bel en vra of oom Sarel kan saamry.  Hy gaan nie die honde vat nie.  Hulle sal maar vanaand die jakkals moet skiet as hulle hom kry.  Oom Sarel bied aan om met sy bakkie te ry en om sy honde te neem, maar dit help niks.  Hulle ry met oom Piet se bakkie en oom Sarel skiet vanaand.  Die honde kan nie saam nie.

Hulle ry tot by die pannetjie agter op Ortona en draai tussen die twee lande  in op na oom Giep se kant toe.  Hulle sien ‘n oog in die land. Hulle hou stil en kry die kasset speler reg.  Teen die tyd dat alles reg is en werk, is die jakkals weg.  Hulle ry deur die hek na volgende kamp en ry teen die land se kant af.  Hulle het nie 200 tree gery nie of die jakkals is weer daar.  Hulle  speel vir hom sy musiek en hy kom nader gehardloop.  Hy bly in die lang gras op en af hardloop.  Hy kom nie so dat hulle hom kan skiet nie.  Eindelik is hy weg.  Hulle begin weer ry en soek.  Hulle kry die oë van twee maanhare saam met die jakkals.  Die jakkals is nou so wild dat hulle nie naby hom kan kom nie.  Hulle ry om die kamp en weer terug deur die hek.  

Die skape het die heel aand al geblêr in die weikamp naby die diesel tenk en die pannetjie waar hulle ingekom het.  Hulle ry sommer deur die land na die diesel tenk se kant toe.  Toe hulle by die skape verbygaan, sê oom Piet: ”Hier is ‘n oog by die skape!”  Op die land se punt draai hulle om en ry langs die land met die paadjie terug na die skape.  By die skape sê oom Piet: ”Hier is die jakkals!”  Oom Sarel vlieg uit met die ,243 geweer en lê aan oor die dak.  Die jakkals hardloop skuins weg in die lang gras.  Hy trek die skoot af en skiet agter die jakkals vas.  Die jakkals vermeerder spoed en hardloop reguit weg van hulle af.  Oom Sarel lê aan oor die dak en toe die skoot klap, makeer die jakkals.  Hy vat die geweer en gaan soek die jakkals. Oom Piet beduie hom tot reg by die jakkals.  Hy het die jakkals ‘n duim bokant sy stert ingeskiet en voor by sy bors uit.  Hy vat die jakkals terug bakkie toe.  Hulle is baie bly dat hulle hom het.

Hulle ry weer om die land en kry die eerstejakkals weer naby waar hulle hom laas gelos het. Hulle gaan weer deur die hek. Nou begin daar ‘n kat en muis speletjie.  Hy beweeg saam met die maanhare.  Roep hulle hom, wil hy niks weet nie. Hy kom nie weer nader nie.  Toe oom Sarel weer die hoeveelste keer deur die teleskoop moet kyk om te sien wat se oog daar voor is, kry hulle hom by die een maanhaar. 

Die maanhaar bly staan en oom Sarel sien hoe die jakkals agter hom na regs weghardloop.  Hy sê vir oom Piet om regs te lig.  Die jakkals is nou behoorlik ver.  Hy maak toe sy laaste fout van sy lewe.  Hy spring op ‘n mierhoop en staan vir die jagters en kyk.  Hy is nou reg voor die bakkie.  Oom Sarel probeer dooie rus vat oor die dak en die deur.  Hy sukkel om die geweer stil te hou. Die skoot klap.  Oom Sarel vat sy geweer en sit hom in die bakkie.  Die skoot klap die skoot daar voor en die jakals is weg.  Hulle ry nader om hom te gaan oplaai.  Die jakkals was behoorlik ver.  Hulle kry hom toe waar hy dood lê en laai hom op.  Dis twee vir die aand. Nogal nie sleg nie.

Die volgende dag by die skou wil oom Sai, oom Piet se broer, net weet hoe het hulle dit reggekry?  Almal is te bly oor die sukses.  Hulle moes toe maar die waarheid hoor.  Sien dit werk so: ”Die eerste jakkals by die skape was te naby om hom te skiet.  Ons moes hom eers verwilder dat hy ver genoeg kan wees vir sy skoot.  Oom Piet het gesê: ”Skiet eers agter hom dat hy kan wegkom.  Ons moet hom nie met die kruit brand nie”.

Die ander jakkals moes hulle jaag tot hy ver genoeg staan vir sy skoot.
Die twee jagters is baie self tevrede oor hulle sukses met die twee jakkalse.

Uitgenooi vir koekies en tee



UITGENOOI VIR TEE EN KOEKIES .

Dis Winter. Dis vrek koud. Die jakkals pla weer op Ortona.  Hy het al weer ‘n paar lammers daar gevang. Oom Piet is radeloos. Die jakkals vreet hom. Hy kry soveel skade aan die skape. Hy vang nou nie meer net lammmers nie. Die jakkals het die vorige aand ‘n groot ooi platgetrek.

Oom Piet staan agter op die bakkie en lig.  Daar is ‘n dun windjie. Hy sny deur alles.  Later help die handskoene nie meer nie. Hulle ry al die hele aand op Ortona. Al wat hulle kry is maanhare , hase, springhase en steenbokke.

Dis later al half een die nag.  “Ek kry nou baie koud, sê oom Piet. Kom ons drink eers ‘n koppie tee”.   Oom Sarel hou stil en sluit die bakkie af.  Dis snerpend koud.  Hulle gaan sit langs die bakkie aan die windstil kant.  Oom Sarel haal die koppies uit die mandjie wat tannie Rina gepak het. Hy gooi vir oom Piet ‘n heerlike warm koppie tee en gee vir hom die koekies aan - Van tannie Rina se lekker soetkoekies.  Wat ‘n man nie ook sal trotseer om in die koue van die nag tee en koekies te kry nie! Dit sou baie makliker wees om te wag tot ligdag en dan in die hitte van die sonstoep daarvan te kry vir oggend tee.

Die manne is baie bly oor die lafenissie.  Die warm tee verjaag die koue op oom Piet se lippe toe hy die eerste slukkie tee vat.   Die soetkoekies smelt vanaand in ‘n man se mond – moet die koue wees wat so ‘n uitwerking op hulle het.  Hulle gesels oor waar die skape gevang is. Die groot ooi is heelwat gevreet.  Moet die werk van ‘n paar jakkalse wees.

Die heerlike tee en koekies verdryf gou die ergste koue uit die lywe.  Daar is darm ook baie beter dinge om te doen as om jakkals te soek die tyd van die nag en dit nog in die koue ook.  Oom Sarel maak gereed om die kasset te speel terwyl oom Piet nog ‘n bietjie vir die koue wegkruip.

Hy pak die kasset speler op die dak en maak seker dat die ligte en geweer reg is.  Hy lig rond.  Hy kan sy oë nie glo nie.  Vyftig treë agter hulle staan ‘n ou maanhaar wat kom ondersoek instel het. Honderd treë aan die ander kant van die bakkie, staan daar ‘n duiker wat die gevroetel in die donker gehoor het.  Nie ver van haar af sit ’n springhaas en rondhop.  Doer anderkant is ‘n steenbok besig om sku weg te beweeg toe die lig op hom val.

Soms moet ‘n mens ver gaan om die ekstra mooi van die lewe raak te sien. As die twee nie vanaand die koue trotseer het nie, kon hulle nie hierdie skouspel om hulle beleef het nie.  Hulle moes ‘n warm bed,  heerlike slaap opoffer en die koue trotseer om hierdie pragtige toneel te kan beleef.  Hier sit hulle in die veld se restaurant met besondere eregaste. Meneer maanhaar is daar. Mevrou duiker sit by die tafel oorkant terwyl juffrou steenbok en sussie springhaas ook op hulle bestelling wag.

Ons kan almal spog dat ons al aan tafel was met baie hoog geplaasde mense.  Dat ons met hulle kon praat en skouers skuur. Dat ons hulle ons mening kon gee.  Min van ons het die voorreg al beleef om saam met die diere van die natuur in hulle omgewing aan te sit vir ‘n versnapering.

Welliswaar is daar op ons spyskaarte verskillende items vanaand.  Heerlike miere sal vir Maanhaar genoeg wees. Die bokke bestel sagte groen grassies. Springhaas sal met ‘n paar gras wortels wat hy uitgegrawe het, tevrede wees, dankie.  Saam kan ons skepsels van God die lewe vier wat die Skepper vir ons gegee het. Saam kan ons Sy genade indrink terwyl die sterre helder bo ons skyn.  Hy versorg en dra ons almal – mense en diere. Hy vervul ons behoeftes.  Net jammer dat die verlossende genade in Jesus Christus, nie ook vir die diere beskore is nie.

Vir ‘n tydjie is oom Sarel oorweldig deur die toneel rondom hom.  Hy is so aangegryp deur die oomblik dat hy die lig afsit en eers ‘n bietjie stil word. Dan roep hy vir oom Piet: “Kom kyk hier wat sien ek vanaand.  Ons is eregaste van ons hemelse Vader se banket.  Ons kon ook aansit vanaand saam met hulle vir ‘n feesmaal – van koekies en tee in God se opelug restaurant op Ortona.

Oom Sarel speel toe nog sy jakkals musiek. Die keer is dit halfhartig. As die jakkals nou kom en hy moet skiet, sal dit net die wonderlike aand bederf.  Gelukkig sê oom Piet: “Dis laat. Kom ons gaan slaap. Ons sal die jakkals later weer kom soek”. In stilte ry hulle huistoe die aand.  ‘n Mens kom om een ding te doen, maar beleef dan eindelik iets heeltemal anders. Iets wat jou heeltemal van jou voete af slaan.

Dartel ligvoets deur die bossies




DARTEL LIGVOETS DEUR DIE BOSSIES

Die wind waai liggies Noord toe Philip vir oom Sarel by die klein rantjie op Gannapan aflaai.  Philip ry stadig weg na die ronde koppie waar hy self gaan voorsit. Die son het so pas opgekom. Rondom hulle leef die veld.  Hier en daar hoor jy ‘n korhaan opvlieg met ‘n woeste lawaai. Dan antwoord ‘n ander een weer om te sê dat hy ook die nag oorleef het.

Selfs die tarentaal familie laat ook van hulle hoor.  Jy hoor hoe hulle van die bome se kant af die veld instap om te gaan wei.  Dit laat ‘n rustigheid oor jou daal.  Alles is so gelukkig en tevrede.

Die reënvoëltjie klap sy vlerke met die opvlieg en gee ‘n lang fluit terwyl hy met oopgesperde vlerke grondwaarts sweef.  Hy vertel vir almal wat ‘n wonderlike dag daar vir ons wag.  Moontlik ook nog reën binne ‘n paar dae.

Vroegoggend in die Vrystaat vlaktes is ‘n wonderlike ervaring.  Jy kan jou verluister aan die voël- en dierelewe.  Dis ongelooflik hoe ver die klank trek. Op ‘n afstand hoor jy ‘n lorrie in die teerpad verby ry. Twee kilometer verder hoor jy hoe mense met mekaar praat. Hoe die een na die ander roep! Hoe daar geantwoord word. Wat ‘n verfrissende belewenis om tyd in die natuur te kan deurbring.

Oom Sarel raak so verdiep in natuur dat hy amper skoon vergeet waarom hy vanoggend hier is. Dis weer jakkalsjag tyd.  Hulle gee oom Piet nie rus vir sy siel nie.  Elke nag word daar lammers gevang. Vanmôre moet die bordjies bietjie verhang word. Die jagters kry hulle beurt ook self gejag te word.

Hy lig sy verkyker op en begin die wêreld om hom te verken. Daar is bykans geen beweging te bespeur nie. Net oom Piet kom aangery na sy plek waar hy moet voorstaan.  Dan hoor jy die eerste sweepklap van die aanjaers. Hulle begin skree en raas. Nou moet hy mooi kyk.  Die jakkals kan enige plek te voorskyn kom.

‘n Korhaan vlieg agter oom Sarel naby die pan op.  Hy het beslis groot geskrik te oordeel aan die lawaai. Oom Sarel trek dadelik sy verkyker soontoe.  Hy sien hoe die korhaan wegvlieg.  Dan - sowaar is daar ‘n beweging waar hy was.  ‘n Jakkals het hom gepla. Die jakkals staan doodstil en kyk die voël agterna.  Hy snuif die lug - maak seker dat daar nie gevaar naby is nie.

Dit klink of die aanjaers nuwe lewe gekry het.  Die jakkals steur hom min aan die lawaai.  Die jakkals begin stadig na Philip se rantjie toe draf.  Dan staan hy weer. Ruik in die lug en kyk rond. So beweeg hy nader en nader aan Philip se rantjie.

Oom Sarel bel Philip op sy selfoon. Sien jy die jakkals? Waar? Hier tussen jou en die pan. Nee! Waar moet ek kyk? In die sloot vyf honderd treë van jou af.  Sowaar, ek sien hom. Hy het gaan lê.

Philip klim van die rantjie af en ry nader met die bakkie.  Hy hou stil sodat hy die plek waar die jakkals is, goed kan dophou.  Oom Sarel beweeg nou met die honde agter die jakkals in.  Hy is haastig. Vossie moenie vanoggend wegkom nie.

Hy klim ligvoets van die klein rantjie af en dartel tussen die bossies deur soos ‘n ballerina op ‘n verhoog.  Sy klein lyfie van 115kg sukkel om die regte ritme te kry.  Sy asem begin gou jaag. Hy gesels met die honde om hulle naby hom te hou.  Hulle hardloop opgewonde saam.  Daar moet tog net nie nou ‘n bok of ‘n haas voor ons opstaan nie! Dan is die jakkals weg.

Nie vêr nie of hy begin oorslaan in ‘n vinnige stap.  Hy praat saggies met die honde.  Dis nou nie meer vêr nie!  Philip bel nog om te sê waar die jakkals is, toe jaag die honde hom op. Die jakkals swaai gemaklik tussen hulle deur. Zola vat na hom maar dis mis.  Hy kom reg op Basjan afgehardloop.  Basjan maak of hy gaan vir hom.  Die jakklas glip verby en daar trek hy. Sonja kom van die kant af in.  Toe die jakkals weer draai, loop Shirley hom onderstebo. Met die opstaan slag vat sy hom aan die keel. Hulle maak hom net daar plat.  Die jong honde was vanoggend nie te sleg nie.

Die tegnologie het vanoggend gehelp om die jakkals aan te keer. Oom Sarel het homself vanoggend oortref.  Dit was sy eie record wat hy opgestel het. Hy het agt honderd meter agter die jakkals aangehardloop en hom toe binne ‘n honderd meter gevang.  Dit wil nogal gedoen word vir ‘n hartpasiënt van 115kg.  Alles het in die ritme gelê- in die huppel tussen die bossies deur.