Thursday, 3 January 2013

Dartel ligvoets deur die bossies




DARTEL LIGVOETS DEUR DIE BOSSIES

Die wind waai liggies Noord toe Philip vir oom Sarel by die klein rantjie op Gannapan aflaai.  Philip ry stadig weg na die ronde koppie waar hy self gaan voorsit. Die son het so pas opgekom. Rondom hulle leef die veld.  Hier en daar hoor jy ‘n korhaan opvlieg met ‘n woeste lawaai. Dan antwoord ‘n ander een weer om te sê dat hy ook die nag oorleef het.

Selfs die tarentaal familie laat ook van hulle hoor.  Jy hoor hoe hulle van die bome se kant af die veld instap om te gaan wei.  Dit laat ‘n rustigheid oor jou daal.  Alles is so gelukkig en tevrede.

Die reënvoëltjie klap sy vlerke met die opvlieg en gee ‘n lang fluit terwyl hy met oopgesperde vlerke grondwaarts sweef.  Hy vertel vir almal wat ‘n wonderlike dag daar vir ons wag.  Moontlik ook nog reën binne ‘n paar dae.

Vroegoggend in die Vrystaat vlaktes is ‘n wonderlike ervaring.  Jy kan jou verluister aan die voël- en dierelewe.  Dis ongelooflik hoe ver die klank trek. Op ‘n afstand hoor jy ‘n lorrie in die teerpad verby ry. Twee kilometer verder hoor jy hoe mense met mekaar praat. Hoe die een na die ander roep! Hoe daar geantwoord word. Wat ‘n verfrissende belewenis om tyd in die natuur te kan deurbring.

Oom Sarel raak so verdiep in natuur dat hy amper skoon vergeet waarom hy vanoggend hier is. Dis weer jakkalsjag tyd.  Hulle gee oom Piet nie rus vir sy siel nie.  Elke nag word daar lammers gevang. Vanmôre moet die bordjies bietjie verhang word. Die jagters kry hulle beurt ook self gejag te word.

Hy lig sy verkyker op en begin die wêreld om hom te verken. Daar is bykans geen beweging te bespeur nie. Net oom Piet kom aangery na sy plek waar hy moet voorstaan.  Dan hoor jy die eerste sweepklap van die aanjaers. Hulle begin skree en raas. Nou moet hy mooi kyk.  Die jakkals kan enige plek te voorskyn kom.

‘n Korhaan vlieg agter oom Sarel naby die pan op.  Hy het beslis groot geskrik te oordeel aan die lawaai. Oom Sarel trek dadelik sy verkyker soontoe.  Hy sien hoe die korhaan wegvlieg.  Dan - sowaar is daar ‘n beweging waar hy was.  ‘n Jakkals het hom gepla. Die jakkals staan doodstil en kyk die voël agterna.  Hy snuif die lug - maak seker dat daar nie gevaar naby is nie.

Dit klink of die aanjaers nuwe lewe gekry het.  Die jakkals steur hom min aan die lawaai.  Die jakkals begin stadig na Philip se rantjie toe draf.  Dan staan hy weer. Ruik in die lug en kyk rond. So beweeg hy nader en nader aan Philip se rantjie.

Oom Sarel bel Philip op sy selfoon. Sien jy die jakkals? Waar? Hier tussen jou en die pan. Nee! Waar moet ek kyk? In die sloot vyf honderd treë van jou af.  Sowaar, ek sien hom. Hy het gaan lê.

Philip klim van die rantjie af en ry nader met die bakkie.  Hy hou stil sodat hy die plek waar die jakkals is, goed kan dophou.  Oom Sarel beweeg nou met die honde agter die jakkals in.  Hy is haastig. Vossie moenie vanoggend wegkom nie.

Hy klim ligvoets van die klein rantjie af en dartel tussen die bossies deur soos ‘n ballerina op ‘n verhoog.  Sy klein lyfie van 115kg sukkel om die regte ritme te kry.  Sy asem begin gou jaag. Hy gesels met die honde om hulle naby hom te hou.  Hulle hardloop opgewonde saam.  Daar moet tog net nie nou ‘n bok of ‘n haas voor ons opstaan nie! Dan is die jakkals weg.

Nie vêr nie of hy begin oorslaan in ‘n vinnige stap.  Hy praat saggies met die honde.  Dis nou nie meer vêr nie!  Philip bel nog om te sê waar die jakkals is, toe jaag die honde hom op. Die jakkals swaai gemaklik tussen hulle deur. Zola vat na hom maar dis mis.  Hy kom reg op Basjan afgehardloop.  Basjan maak of hy gaan vir hom.  Die jakklas glip verby en daar trek hy. Sonja kom van die kant af in.  Toe die jakkals weer draai, loop Shirley hom onderstebo. Met die opstaan slag vat sy hom aan die keel. Hulle maak hom net daar plat.  Die jong honde was vanoggend nie te sleg nie.

Die tegnologie het vanoggend gehelp om die jakkals aan te keer. Oom Sarel het homself vanoggend oortref.  Dit was sy eie record wat hy opgestel het. Hy het agt honderd meter agter die jakkals aangehardloop en hom toe binne ‘n honderd meter gevang.  Dit wil nogal gedoen word vir ‘n hartpasiënt van 115kg.  Alles het in die ritme gelê- in die huppel tussen die bossies deur.

No comments:

Post a Comment