HARTSEER EN TRANE……
Philip is baie lief vir Ciska. Sy is ‘n
pragtige hond. As sy hom waar ookal sien aankom, hardloop sy nader om vir hom
aandag te kom gee. Sy het dit regtig geniet om te hardloop. En hardloop kon sy
baie goed doen. Die twee honde was op
die stadium net oor ‘n jaar oud. Die
honde was al lankal klaar deel van die gesin. Hulle word soos jou kinders as jy
elke dag met hulle werk.
Honde is ook net soos kinders. Hulle hou
daarvan om mekaar strepe te trek. Geniet dit om mekaar te terg. Boelie mekaar
as hulle die kans kry. Alles in ‘n goeie
gesindheid.
Die honde is baie goed
gedissiplineer. Jy het nie nodig om met
hulle te raas of hulle te slaan nie. Hulle luister en is ‘n groot plesier op
die plaas. Hulle bly op die bakkie as jy ry en spring nie sommer self af
nie. Veral in die groot pad word hulle
nooit toegelaat om af te spring nie.
Hulle wag eers op die bakkie totdat jy deur ‘n hek in die veld ingaan,
voordat hulle afspring.
Oom Sarel en Philip ry een oggend weer
met die honde om te gaan kyk na die skape op Bosplaat. Die gesig wat hulle daar
begroet, is nie goed nie. Daar is twee ooie met stywe uiers wat loop en
blêr. Hulle ry die kamp deur en kry die
lammers waar hulle gevang is. Nogal twee sterk lammers. Dit was nie ‘n
draaijakkals se werk nie. Dit kon net die blourug wees wat soveel skade kon
aanrig. Oom Sarel kry die ooie baie
jammer. Hulle loop elke lam in die trop wat
hulle kry, by en kyk of dit nie hulle s’n is nie. Dit ruk jou aan jou hart om die verskeurde
moeder liefde te sien.
“Ons sal vanaand weer ‘n draai moet
gaan ry. Ek weet nie waarvandaan kom die jakkals nie,” dink oom Sarel. Die
moeilikheid hou ook nooit op nie! Jy
kan ook nie die ooie in die veld elke aand in die kraal laat slaap nie. Dis
heeltemal onprakties op die deel van die plaas.
Met hulle gedagtes vol van die skade op
Bosplaat, ry hulle terug Palmietpan toe.
Hulle nader die hek van Palmietpan. Philip moet wag vir ‘n kar wat moet
verbykom voordat hy kan indraai by die plaashek. Ciska spring af, reg voor die aankomende
voertuig in. Die outjie is op pad
Bloemfontein toe. Hy is baie haastig en ry dat dit bars. Toe sy voor hom
inspring skop hy brieke vas en skuif honderd en tien treë met fluitende remme. Hy slaan vir Ciska dat sy honderd en dertig
treë ver skuif. Hy lig sy voet van die
briek en hou nog vyftig treë
verder stil.
Oom Sarel spring uit, toe hy die stamp
hoor. Hy hoor net die bande fluit en
sien Ciska agter die kar aan skuiwe.
Philip is in ‘n toestand. Sy lieflingshond is getrap. Hy voel lus en
doen iets aan die ou wat so gejaag het.
Hulle skuif dadelik die bakkie en honde uit die pad. Die werksmense op die plaas het die ongeluk
gehoor en kom aangehardloop om te kom help.
Daar lê Ciska morsdood. Die ander honde word afgelaai en huistoe gejaag. Hulle draai om met die bakkie laai vir Ciska
op en vat haar huistoe. Gelukkig het niemand anders seer gekry nie. Die kar
staan en oom Sarel sleep hom in dorp toe.
Hierdie ongeluk was ons eerste groot
hartseer met ons honde. Nie een hond
spring ooit in die ry af nie. Hulle weet hulle moenie. Wat het haar laat
besluit om af te spring? Het sy miskien ‘n rooi meerkat by die hek gesien wat
sy wou jaag? Die antwoord sal ons nooit
weet nie.
Ciska is dood en niks kan haar
terugbring nie. Dit het gevoel soos een
van die familie lede wat weg is. Hulle begrawe haar op ‘n ereplek in die
tuin. Sy was die eerste een om die
“helde akker” vir Palmietpan se honde te open.
Daardie aand word daar nie gery nie. Almal is te ontsteld. Hulle moes eers weer tot verhaal kom.
As ‘n mens veg vir jou eie en jou diere
se oorlewing, mobiliseer ‘n mense baie energie.
Dit vat moeite en deursettingsvermoë om na jou boerdery om te sien. Om twee, drie keer of elke aand in die week
te ry na ‘n dag se harde werk. Jy moet gaan om die ondiere van die vee weg te
hou. Anders ly jy baie skade.
Om gif te gebruik om plaagdiere te
bestry, is heeltemal onaanvaarbaar. Te veel onskuldige diere en voëls bly ook
in die slag op die manier. Te veel
onskuldige diere kry ook skade met slagysters as jy nie mooi weet hoe en waar
om dit te stel nie.
As boer werk jy baie met lewe en dood.
Jy sien baie diere gebore word en doodgaan. Jy besluit watter diere gaan
slagpale toe. Jy weet hulle gaan daar doodgemaak word. Dis al klaar ‘n moeilike konsep om te
hanteer. Maar dis deel van die boer se lewe.
Soms kom die dood net te na aan jou.
Dan pik jy nie net ‘n traan weg nie. Dan huil jy hardop oor alles wat deel vorm
van ons gebroke lewe op aarde. Ja, dan huil jy ook oor die jakkalse wat jy moet
vang en vankant maak in jou poging om self te oorleef. Dan is die jag nie ‘n sport of plesier nie.
Dan wens jy daar was ander oplossings met minder intense emosies. Want die dood gaan altyd gepaard met hartseer
vir die mens.