CISKA EN ZOLA MAG MAAR!
Oom Sarel vertel vir oom Piet wat gebeur het. Oom Piet vertel hom van ‘n hele paar keer wat
dit met hom gebeur het. Daar is net
jakkalse wat vinniger as al die ander kan hardloop. As jy hulle nie met die
bakkie gekeer kry nie, loop hule sommer maklik die honde uit. Hy vertel hom van
die jakkals wat op Conovium pla. Philip hulle besluit twee aande later om daar
te gaan kyk vir die jakkals. Dis ‘n
heerlike aand en die twee ry weer met die jong honde. Hulle wonder wat sal die twee maak as hulle
weer alleen die volgende jakkals kry?
Hulle ry met die ou Hoopstad grondpad op Conovium, oom Piet se
plaas. Hulle sien ‘n lekker oog naby die
springbokke in oom Piet se wildskamp en besluit om ondersoek te gaan
instel. Oom Piet het juis gesê daar is
fout by sy springbokke. Die klein bokkies raak weg. Dalk loop hulle vanaand die sondebok by die
springbokke raak. Hulle gaan deur die
kamp se hek en begin stadig in die rigting van die oog ry.
Hulle moet mooi ry vanaand. Die oog is
in die lang gras aan die kant van die rantjie.
Daar steek hier en daar ‘n klip uit. Ry jy te vinnig oor ‘n klip en jy
beskadig jou voertuig, kan jy dalk straks vanaand nog met die voete huistoe
loop terwyl jy dink wat jy vir ma gaan sê oor wat jy met die bakkie aangevang
het.
Hulle ry versigtig. Oom Sarel het die
bakkie se ligte afgesit. Philip lig vir
hom met die skietlamp om te sien waar hy ry. Dan lig hy weer en kyk wat voor
aangaan. Die jakkals is nog daar in die
lang gras. Hy is nie te ver van die kortveld af nie. As hulle hom daar kry, kan
hulle sy sake werk. Oom Sarel
konsentreer so op die bestuur dat hy tred verloor met waar die jakkals presies
is.
Die volgende oomblik skree Philip: “Ry
Pa!” Oom Sarel sit die bakkie se ligte aan en trap die vet. Die honde spring klaar af en hardloop in die
lig af. Oom Sarel volg die lig en sien die jakkals hardloop. Hy ry so dat hy ook vir die honde lig met die
bakkie se ligte. “Die jakkalsie speel
vanaand ook nie,” dink hy. Hy loop ‘n barshou.
Ciska en Zola loop hom in en draai hom. Zola vat hom die eerste keer
mis. Hy ontglip haar maar Ciska kry hom beet en gooi hom om. Hulle pak hom. Hy
byt hulle los. Daar gaan hy. Hulle pak hom weer en gooi hom weer om. Dis ‘n
woeste geveg daar voor. Daar word nie baie gevra of gegee nie. Drie stelle
tande doen die praat werk.
Eers kry die jakkals vir Ciska beet. Sy
tjank maar bly aanhou byt. Dan is dit
Zola se beurt. Dit lyk of die honde die oorhand kry, maar die jakkals veg
verwoed terug. Hy byt hom weer los en daar gaan hy. Die twee honde is by die
tyd al baie moeg. Hulle hardloop hom stadig in en gooi hom weer om. Hy byt
hulle weer los en daar trek hy!
Die honde is klaar. Hulle kan nie meer
nie. Zola loop hom in en gooi hom om. Sy self steier een kant toe. Die jakkals
spring weer op en daar gaan hy met Zola agterna. Ciska het nou heeltemal
uitgesak. Sy kom agter aan. Dis nog net Zola en die jakkals.
Sy loop weer die jakkals in en gooi hom
om. Hy tel nog sy kop ‘n keer op en bly toe doodstil lê. Zola is so moeg sy byt
nie verder nie. Sy staan net vir die jakkals en kyk. Philip spring af en gee
die jakkals ‘n genadeskoot met die ,243 geweer en laai hom op.
Die twee honde is pootuit gespook.
Philip laai die twee op en hulle ry weer terug na die plek waar hulle die jakkals
gekry het. Die jakkals het bloed aan sy
bek gehad toe hulle hom begin jaag het. Hy het seker iets gevreet daar. Philip
lig rond en sien iets wits lê. Dis ‘n klein springbokkie. Hy is nog warm. Die
jakkals was nog besig om aan hom te vreet, voor hyself gevreet is.
Vanaand is die manne nie min trots op
hulle honde nie. Vanaand was dit ‘n saak van moed en uithou vermoë. Die twee
jonges het gewys: “Hulle kan as dit moet”.
Die jakkals het hulle die geveg van hulle lewe gegee. Zola het vanaand
nuwe respek afgedwing by haar mense. Honde wat vanaand so kan baklei, kan
beslis die ander aand nie bang gewees het vir jakkals wat weggekom het
nie. Die gedagte hieraan laat die manne
beter voel.
No comments:
Post a Comment