CISKA EN ZOLA
Alle goeie goed
begin gewoonlik maar klein. Dit is soms
‘n mengsel van kennis, begrip, wysheid en verstand, gemeng met ‘n fyn
aanvoeling en ‘n goeie dosis geluk van Bo. So is die eerste lede van die
bontspan bymekaar gekry.
Oom Piet kom een
oggend in 1996 aangery op Palmietpan. Hy
is haastig op pad na Koekemoersfontein, sy een plaas veertig kilometer op die
Dealesville pad. “Soek jy nie klein windhondjies nie?” wil hy weet. Oom Sarel is dadelik opgewonde. Waar is
hulle? Hoe lyk hulle? Hoe is die ouers? Sal hulle iets beteken?”
Reën die vrae op oom Piet.
“Buks het klein
hondjies. Hulle kom uit die nageslag van Misiel van oom Jannewet Linde en ‘n
dogter van Vlam, oom Piet se hond. Aan
die geslagslyn geoordeel moet dit baie goeie hondjies wees. Die ouers is mooi
honde. Buks is baie tevrede met hulle.
Hulle was nog baie jonk, toe het hulle al ‘n rooikat gevang. Ek weet nie hoe sal die teling wees nie,” sê
oom Piet. Ja, hulle is mooi en die ouers is goed. “Kry dan vir my een,” vra oom Sarel.
Die volgende dag
word Zola afgelaai. Sy is ‘n vriendelike en nuuskierige klein windhondjie. Sy is pragtig! Zola is ‘n hondjie met groot wit en brundel
kolle. Is daar nie nog nie? Wil oom Sarel dadelik weet. Hy is baie ingenome met
haar. Sy is net wat hy gesoek het. “Ja, daar is nog ‘n tefie. Sy is ‘n geel hondjie met ‘n groot rinkhals
en ‘n bles. Jy moet hulle sommer altwee vat en saam grootmaak. Hulle is nie so lastig nie want hulle hou
mekaar besig. Hulle jag dan ook beter saam,” gee oom Piet raad. Dis ‘n
wonderlike idee! Die volgende dag is Ciska ook afgelaai. So begin die honde
boerdery op Palmietpan weer na byna dertig jaar.
Die familie kan
nie wag dat die twee moet groot word nie.
Hulle word gou geleer om saam met die bakkie te ry. Die lekkerste ding vir hulle is om saam met
die bakkie te hardloop in die veld. Een
middag toe die twee al vyf maande oud is, kom hulle by die krip in die Gwarrie
kamp waar tant Vien gemelk het. Daar kry
hulle ‘n haas. Dis lekker kaal en hulle kan hom goed sien. Opgewonde begin die
twee die haas jaag. Zola is baie
entoesiasties. Sy skraap die haas en kom
in op hom. Maar o! weë die haas hardloop
deur die draad. Sy is nog so dom en weet
nie dat die draad haar kan seer maak nie.
Sy verminder nie spoed nie en hardloop binne in die draad vas. Die draad
gee haar ‘n geniepsige sny. Daar sit sy en tjank terwyl die haas ewe
windmakerig weghardloop.
O! wêreld. Dis toe
net bloed en trane. Almal huil saam.
Daar is niks wat hulle kon doen om die ongeluk te keer nie. Hoe sê jy nou vir ‘n dom hondjie wat haar
eerste haas jaag om te pasop vir die draad?
Sy sou in elkgeval nie wou luister nie. Hulle laai haar op die bakkie en
vat haar huistoe waar die wonde behandel word.
Stadig maar seker
leer die twee. Een middag gaan hulle
beeste toe. Toe die beeste nader aan die bakkie kom, kruip hulle onder die
bakkie in. Oom Sarel dink in sy
dommigheid: “As hy vinnig wegry, sal hulle hom volg”. Hy trek weg en die
volgende oomblik sit die twee jong hondjies oop en bloot tussen die
beeste. Hulle laat nie op hulle wag
nie. Hulle laat spaander dadelik, maar
in die verkeerde rigting. Toe oom Sarel
besef wat hy aangevang het, hou hy dadelik stil en begin hulle roep. Hulle is skoonveld. Dan sien hy hulle
anderkant die beestrop. Hulle is so bly
om hom te sien dat hulle met ‘n wye draai om die beeste aangehardloop kom. Gelukkig het niemand seergekry nie.
Hoe leer jy nou ‘n
jong hond om iets te jaag? Hulle gaan ry
met die twee die eerste aand. Die twee
is nog so onkundig dat hulle net op die bakkie wil bly. Jy kry hulle vir geld in die wêreld om iets
te jaag nie. Oom Sarel skiet ‘n haas.
Hulle ruik versigtig daaraan. Hulle het nog nooit so iets gesien of geruik nie! Die ding met die lang ore ruik nogal
snaaks. Kan dit dalk gevaarlik wees?
Oom Sarel gryp die
haas aan die pote en sleep hom voor hulle rond.
Eers is hulle bra versigtig. Dan begin hulle nuuskierig die beweging
volg. Hulle byt halfhartig na die haas. Na
‘n rukkie se gespook, gee hulle elkeen darm die haas ‘n byt.
Die volgende aand
gaan ry hulle weer en neem ‘n ouer hond saam wat al ‘n bietjie gejag het. Hy jaag en vang die eerste springhaas. Ciska hou baie van die nuwe idee wat sy sien. Sy het die hele tyd saam gehardloop. Sy snap
so vinnig wat moet gebeur, dat sy die volgende haas self vang. Zola verstaan nog nie mooi nie. Sy galop net
agterna en kyk wat die ander honde maak.
Die volgende aand is sy by en vang sy die eerste springhaas.
Dit vat tyd om
jong honde te leer om in die lig af te hardloop in die aand. Aanvanklik moet iemand saam met hulle gaan en
hulle aanspoor om te soek en die diere te jaag. Die persoon spoor hulle aan en
jaag self die springhaas. Hulle sien die
haas hardloop en begin hom ook jaag. As
hulle nog jonk is, is hulle baie lomp.
Hulle werk hard om hom in te loop.
Die haas speel gewoonlik dan met hulle. Hoe ouer hulle word, hoe beter
word hulle koördinasie. Hulle versnel
vinniger en kan skerper draai.
Die maklikste is
om hulle naby die prooi af te laai en dan met die bakkie nader te ry. Sodra jy
naby genoeg is dat hulle die springhaas kan sien, storm jy hom met die bakkie
en rig al die ligte op die haas.
Hulle leer gou dat
as die bakkie se “revs” opgaan en hy storm, is daar aksie. Later leer jy hulle om in die lig af te
hardloop as jy geskiet het. Eers stap jy
saam met hulle. Dan spoor jy hulle aan om alleen te gaan. Dit vat lank om ‘n jaghond behoorlik op te
lei.
Zola en Ciska het
albei op ses maande hulle eerste hase gevang. Nogal goed vir sulke jong
hondjies. Hulle word by die dag skerper.
Hier is belowende potensiaal. Op
tien maande is hulle gereed vir die volgende toets. Wat sou hulle doen met iets
wat kan raas en terugbyt en boonop nog groter as ‘n haas is?
Hulle was al by
die tyd geleer om te jaag as jy iets met die bakkie gestorm het. Oom Sarel hulle besluit dis tyd vir die groot
toets “ons kan nie honde aanhou wat nie tande het nie,” sê hulle. Hulle laai
die twee op en ry die aand in die Vrystaat kamp. Hulle lig rond. Daar voor is ‘n springhaas. Hulle laai die twee af en ry versigtig
nader. Jy moenie reguit na ‘n oog toe ry
nie. Hy moet dink jy gaan by hom verby
ry. Jy benader hom dus van die skuinste
af. Toe hulle naby genoeg is, storm
hulle hom. Die twee is dadelik by en
begin hom jaag. Toe Philip sien hulle gaan
hom vang, vat hy die lig weg. Hulle ry verder.
Jy kan nie dat die honde elke aand ‘n haas vang nie. Hulle sal opraak.
Hulle sien weer ‘n
oog daar voor. Hierdie een is beslis nie
‘n haas oog nie. Dit kan ‘n jakkals of
maanhaar wees. Hulle bekruip die oog die
bakkie. Toe hulle naby genoeg is, sit hulle die ligte aan en storm. Chaauuw!
roep Philip. Die honde storm
oudergewoonte vorentoe. Daar is weer
iets om te jaag. Hulle storm nader. Dis
‘n ou maanhaar. Dis die snaakste ding wat die hondjies nog gesien het. Hy is heelwat groter as ‘n haas.
Versigtig hardloop
hulle agter hom aan. Toe hulle te naby na sy sin aan hom kom, spring hy om en
storm hulle met ‘n luide gegrom. Hulle spring verward weg en begin blaf. Die maanhaar spring weer om en hardloop weg
met die honde agterna. Ciska gryp hom en
gee hom ‘n byt. Hy grom en storm haar. Sy vlieg weg uit sy pad uit. In die hardloop kry Zola ook ‘n hap in. Hy
los vir Ciska en storm vir Zola. Sy gee
vinnig pad terwyl Ciska weer op haar beurt nader storm. Die twee blaf opgewonde
terwyl hulle die ou spook.
Hulle gryp hom ‘n
slag, maar hy draai hom tussen hulle uit. Hy kry Ciska beet en gee haar ‘n
lekker byt. Sy tjank dat jy haar wie
weet waar kan hoor. Sy sê dis baie seer in hondetaal. Hy los haar en byt na
Zola. Diè gee pad en spring om die maanhaar.
Hulle is besig om meer vetroue te kry terwyl Philip hulle aanhits.
Die ou maanhaar
raak moeg vir die honde kinders se gespook met hom. Hy vlieg met mening om, om vir Ciska te
gryp. Toe hy sy nek uitsteek om haar te
gryp, vat Zola hom aan die keel. Hulle
pak hom en maak hom klaar. Hulle het
hulle eerste belangrike eksamen geslaag.
Hier was twee lekker jong honde met ‘n blink toekoms voor hulle.
‘n Hond se moed en
jaginstink word deurgaans getoets in sy lewe. Wat hy met ‘n vreemde ding maak,
sê vir jou hoe hy later ander situasies gaan hanteer. Dis word as ‘n groot skande beskou as jou
hond of honde nie eers ‘n maanhaar kan vang nie. ‘n Jong hond se moed begewe hom maklik as
daar nie veel in hom steek nie. Hy los sommer die maanhaar en hardloop weg. Hy
skrik baie groot vir die grom geluide wat die maanhaar maak. As ‘n bang hond nog ‘n byt kry, is dit
klaarpraat.
By die huis word
daar eers koffie gemaak en die hele episode bespreek. Daar word heerlik gelag vir die twee se
manewales die aand. Dit was nou
aangenaam! Die tyd en aandag aan die
honde was besig om vrugte af te werp!
No comments:
Post a Comment