DIE EERSTE BLOURUG
Jaco, ‘n vriend
van die gesin, het ook ‘n jong windhond.
Sy naam Is Bruno. Jaco bly op die dorp en hy gaan gereeld saamjag. Die
drie honde is besig om in ‘n gedugte span te ontwikkel.
Oom Sarel het die
skape Bosplaat toe geskuif. Die ooie is
besig om te lam. Na die derde aand kom
die jakkalse agter daar is nuwe kos beskikbaar.
Watter jakkals sal nou agter ‘n haas of springhaas aan hardloop as hy ‘n
vet dorper lammetjie kan vang? Nie lank
nie of die ark is oop. Die jakkalse vang omtrent elke nag ‘n lam. Oom Sarel besluit dit kan nie so aangaan
nie. Daar moet ‘n plan gemaak word met die jakkalse.
Vol moed besluit
hulle om hulle eerste jagtog sonder oom Piet aan te pak. Vanaand gaan hulle probeer om hulle eerste
blourug jakkals te gaan vang. Opgewonde
doen hulle al hulle voorbereidings en daar gaan hulle. Die honde is opgelaai. Elkeen het ‘n halsband aan. ‘n Tou word aan
die bakkie se reeling vasgemaak en deur die nekbande geryg. Die punt word dan so aan die bakkie vasgemaak,
dat hy vinnig losgemaak kan word as die honde moet afspring.
Toe hulle op
Bosplaat by die Smutsvinger kamp se hek indraai, klim die jong manne agter op
die bakkie en laat die honde afklim om eers hulle derms en blase leeg te
maak. ‘n Hond wat sy derm op die bakkie
leegmaak, is nie baie populêr nie. As hy dit nog doen terwyl hy iets moet jaag,
is dit klaar praat. Na ‘n kilometer se ry, laat hulle weer die honde opklim en
maak hulle vas.
Die spanning is
besig om op te laai. Sal hulle vanaand die pyp alleen kan rook? Wat as die jakkals wegkom? Hulle kan nie daaraan dink nie. Dit sal te
erg wees as dit waar word!
Die lig swiep
reelmatig links en regs voor die bakkie verby.
Philip se oog volg behendig die lig.
Hy weet wat hy moet doen! Hy het al baie vir oom Piet gelig as hulle
gaan jag. Hy is gewoond om te lig. Hy sien baie springhase en bokke maar laat
hulle rustig met rus. Vanaand is die aand vir groter dinge. Hulle gaan deur die
hek na die kamp waar die skape loop.
Hulle kan nou enige tyd iets te wagte wees. Die bakkie dreun saggies in
tweede rat. Die petrol bakkie raas gelukkig nie so baie soos ‘n diesel bakkie
nie. ‘n Petrol bakkie is ook vinniger uit die blokke as daar gejaag moet word.
Alles verloop nog reg.
Dan sien Philip
vir ‘n oomblik ‘n skelm oog wat net flits en dan dadelik verdwyn. Dit lyk dadelik verdag. Hulle ry rustig met die paadjie nader. Die
lig swiep heen en weer. “Jy moenie te
lank op ‘n vreemde oog bly lig nie”, het oom Piet hom geleer. As dit ‘n jakkals is, maak jy hom net
wild. Hy moenie agterkom jy het hom
gesien nie. Ry net rustig aan en bly rond en bont lig terwyl jy skuins nader
ry. Daar is die oog weer! Philip is nou
seker dit moet ‘n jakkals wees.
Hy wys met die lig
dat oom Sarel die bakkie se ligte moet doodmaak. Oom Sarel weet hier kom ‘n
ding. Hulle beweeg skuins nader. Elke keer as Philip met die lig naby die oë
kom, laat hy die lig hoog bo-oor die jakkals verby gaan. Jaco begin solank die
honde losmaak. Hy hou die tou se punt in
sy hand vas. As hulle begin jaag, moet
hy die honde vinnig kan los. Oom Sarel
het die blou Nissan bakkie in tweede rat.
Sy twee liter petrol enjin “purr” saggies. Die oog gee ‘n bietjie pad,
maar laat hulle tog skuins nader kom.
“Ry pa!” skree
Philip en lig op die jakkals. Hy sien
dadelik dis ‘n blourug. “Dis hy pa!”
skreeu hy. “Pa moet ry!” Die bakkie se enjin brul en hy skiet soos ‘n
reisiesperd vorentoe. Oom Sarel sit die “brights” aan en volg Philip se ligkol. Dis nou vinnig kyk waar jy ry. Kyk vir mierhope en gate. Probeer die jakkals
in die bakkie se ligte kry en hom daar hou. Dan kan die honde nog beter
sien.
Die jonges is
dadelik af toe hulle Philip se stem hoor.
Daar is geen keer aan hulle nie.
Elkeen doen sy bes om eerste by die jakkals te kom. Hulle het hom klaar gesien en lê oop agter
hom. Hulle hardloop effens onder die bakkie uit.
“Aha!” skreeu oom
Sarel vir die jakkals. “Jy sal vanaand agterkom dis nie die dorper lammetjies
wat jy jaag nie. Vanaand sal jy jou
rieme styf loop jou swêrnoot!” Die
bakkie se enjin brul. Die spoedmeter ontplof: Tien, twintig... dertig....
veertig..... vyftig.. sestig ..
sewentig. Oom Sarel sien die spoedmeter klim.
Die jakkals is nou duidelik in sig. Hy loop dat hy bars. Die honde lê oop agter hom. Ciska is voor. Hulle kom vinnig in op die
jakkals. Ciska laat hom draai toe sy hom probeer vat. Sy vat hom mis en
hardloop heeltemal by die jakkals verby. Zola was ‘n bietjie verder agter en
vat kortpad agter die jakkals aan. Sy loop hom maklik in en vat na hom. Hy is ook vir haar te vinnig. Hy verander
weer rigting terwyl Bruno hom amper raakskep.
Hy maak nou vir
die draad. As hy daar kan kom, kan hy
wegkom. Dan kan die manne nie meer die honde help en vir hulle lig nie omdat
die draad hulle keer om verder saam te gaan.
Oom Sarel trap die vet nou plat.
Hy kom links langs die jakkals in en begin hom wegkeer van die draad af.
Die honde lê op sy stert. Sy stert staan eintlik stokstyf soos hy
hardloop. Die drie honde lê kop aan kop
soos reisiesperde. Hulle ry nou ‘n
bietjie. Ciska is ‘n kortkop voor.
Sy loop die
jakkals in en vat hom op sy kruis. Hulle val. Dis net stof. Vir ‘n oomblik kan
jy nie die honde sien nie. Toe sien jy net hulle bondel. Die jakkals skree en byt een van die honde.
Jy hoor’n hond tjank. Dan byt die jakkals
homself los. En daar gaan hy weer. Zola loop hom in en vat hom weer en Bruno is
dadelik by. Hulle gooi hom om. Nou is dit weer Bruno se beurt om slae te
kry. Hy gee duidelik te kenne dat hy van
die jakkals se tande kennis neem. Hy klim verwoed in en byt ‘n barshou. Hy vat die jakkals aan die keel en hy en die
sussies span hom soos ‘n kitaar snaar.
Een hond vat hom aan die boude en die ander aan die keel. Die ander hond
knaag hom op die ribbetjies.
Die jakkals is nog
lank nie klaar nie. Hy kom weer ‘n hond by en byt homself los. Die jakkals gaan vanaand nog loop. Die honde
is nog te sag vir hom. Philip wil afspring en gaan help. Oom Sarel sê: " Nee, solank as hulle hom
spook moet jy hulle los." Hulle moet leer om self reg te kom.
Die bakkie hou so twintig tree van die
honde af stil sodat hulle reg in sy lig is.
Solank hulle die jakkals kan sien, sal die honde plek kry om te byt. Toe
die jakkals nog weer ‘n keer so skree, kom sy maat aangehardloop om te kom kyk
wat aangaan. Philip maak die lig dood om die jakkals te laat nader kom. In die
proses byt die jakkals wat hulle gevang het hom weer los en daar gaan hy. Hulle
moet nou vinnig dink. Hulle lig weer vir die honde en die honde trap weer die
jakkals vas. Toe hulle weer die ander
jakkals soek is hy skoonveld. Hulle moes
hom geskiet het, toe hy naby was. Maar
dan het die een wat die honde gevang het, weer moontlik in die donker weggekom.
Die honde speel nou nie met die jakkals
nie. Hulle byt om hom klaar te maak. Oom
Sarel laat die jong manne weer rond lig maar die ander jakkals is weg. Hulle
slaan die jakkals met die tang op die kop en laai hom op. Hulle begin dadelik
na die ander een soek. As hulle hom weer
sien, is hy diep in die buurman se veld in. Hulle hou stil en bewonder eers
hulle eerste jakkals. Bruno is nie lus
om die jakkals te los nie. Hy bly hom
byt. Hy is so vies hy bly ruk en pluk
aan die jakkals. Die plek waar die
jakkals hom op sy neus stukkend gebyt het, bloei nog stadig.
“Kêrels, die slag is gelewer. Ons het
ons eerste jakkals eiehandig op ons eie gevang. Dit sonder oom Piet se
hulp. Ons honde is nie te vrot nie. Kom
ons bel oom Piet op die selfoon en vertel hom gou wat gebeur het.” Oom Piet is so bly om te hoor van die manne
se sukses dat hy hulle dadelik oornooi om die jakkals vir hom te kom wys.
Trots gooi hulle die jakkals voor oom
Piet in die bakkie se ligkol. “Baie geluk kêrels!” roep oom Piet uit. Dis ‘n
knewel van ‘n jakkals. Hy sal gelukkig nie weer vir ons skade doen nie. Kom ons gaan soek tee!
Tannie Rina maak die heerlikste tee en
soet koekies. Oom Piet wil alles weet.
Waar hulle die jakkals gekry het en hoe die honde was. Elke stukkie sukses word afgemeet en
vasgestamp met ‘n stukkie soetkoekie in die kies en afgesluk met ‘n groot sluk
warm tee. Dit was nou regtig
lekker! Die harte klop lekker warm. Ons het ons eerste jakkals opgeskryf.
As ‘n mens met jong honde werk, moet jy
baie geduldig wees. Jy moet hulle wys
wat hulle moet doen en hulle leer om dit goed te doen. ‘n Goeie hond stel jou
nie teleur nie. Windhonde is baie
gehoorsaam en is altyd gereed om hulle baas te plesier. Hulle is altyd gewillig
om hulle beste te doen as dit by jag kom.
No comments:
Post a Comment