SLIM
VANG SY BAAS
Dis Vrydag aand. Dis Winter. Dis vrek koud. Christof en Magdel het saam
met hulle ouers van die Kaap af kom oorslaap op Palmietpan. Almal is bly om mekaar te sien toe hulle tien
uur die aand afklim. Oom Louis, hulle pa is ‘n domineer in Gauteng. Hy sê
dadelik met die afklim slag dat hulle more oggend vroeg weer in die pad gaan
val. Hy is haastig. Hy preek weer die volgende dag en hulle kan
nie te laat by die huis kom nie.
Oom Sarel het ander planne.
Hulle gaan môre oggend vroeg jakkals jag op Veekraal. Die kinders moet saam. Dan kan pa en ma eers ‘n bietjie wettiglik
laat lê voor hulle ry.
Die jakkals het weer by oom Piet ‘n paar lammers gevang. Hy is raadop en hulle kan kom help. Die twee
kan beslis nie die jagtog misloop nie! Pa en ma kan ‘n bietjie laat slaap môre
want hulle het baie ver gery vandag – dan kan die twee nog hulle jagtog inkry
saam met oom Sarel. Gelukkig stem hulle
ouers in.
Die kinders is dadelik opgewonde.
Hulle sien uit na die jag. Dis ‘n
baie avontuurlike gedagte vir hulle om in die veld te kan wees as die son
opkom. Die familie kuier lekker die aand saam en bring al die nuus van die Kaap
tot in Gauteng op datum. Die kinders
gaan slaap vroeg en sorg dat al hulle warm klere uitgepak is vir more
oggend. Pa brom kamtig omdat hy vroeg
wou ry en nou sal moet wag tot hulle terug is van die jag.
Dis nog donker toe die wekker lui.
Hulle staan op en begin al die lae klere aantrek. Dis omtrent al die
warm klere wat hulle saam gebring het. Dit gaan baie koud wees. Hulle drink ‘n koffetjie. Toe is hulle reg
vir die dag se gebeure. Hulle sorg dat
elke hond se halsband reg is. Toe hulle
by die deur uitstap, is dit snerpend koud.
Daar is ‘n ysige Ooste windjie wat waai. Van daardie winde wat deur jou
klere sny soos ‘n warm mes deur botter.
Hulle is dadelik bly dat hulle warm genoeg aangetrek het.
Christof gaan maak die honde se hok oop. Die honde is baie bly om die familie te sien
en weet dadelik wat wag. Die honde
hardloop rond en spring teen die kinders op. Hulle blaf en gaan te kere. Dis ‘n groot opgewondenheid. Oom Sarel sê net: “Klim op!” toe is almal op
die bakkie. Almal sien uit na die jag. Daar trek hulle!
Hulle ontmoet oom Piet hulle langs die Bultfontein pad en vertrek na
hulle voorstaan plekke. Hulle gaan eerste jag by oom Hannes se bossies. Die son is net besig om op te kom, toe hulle
op hulle staanplek aankom. Dis vrek
koud. Die windjie sny reg deur jou.
Hulle sorg dat die honde mooi vas is en klim agter op die bakkie. Dis
ysig. Gelukkig het hulle onthou om hulle handskoene aan te trek. Elkeen kry ‘n plek om dop te hou. Vanmôre sal
hulle nie dat die jakkals by hulle verby kom nie.
Oom Sarel staan agter op die kant van die bakkie om verder te kan
sien. Hy moet mooi staan om hom te
balanseer op die agterkant van die bak. Oom Piet ry nog na sy staan plek, toe
oom Sarel sê: “Pietjie sal vanmôre moet keer. Die jakkalse gaan wind af
hardloop en dan kom hulle reg by hom uit. Ons sal vanoggend net kyk hoe die
ander jaag”.
Die aanjaers begin klap met die swepe en raas. Vanoggend roer daar niks
uit die bos nie. Dit lyk of alles te koud kry om ‘n voet te versit uit die bos
uit. Die aanjaers kom al nader en nader. Nog bly alles doodstil. Oom Sarel hou die plek voor hulle met die
verkyker dop. “Jy moenie jou aandag
verslap nie, dan kom die jakkals weg,” sê hy.
Die eerste aanjaers kom later al uit die kant van die bos gestap. Oom
Sarel trek weer die verkyker van regs na links.
Hy kan sy oë nie glo nie. Twee honderd treë voor hulle kom die jakkals
aangehardloop, reg op hulle af. Hy ruk
die verkyker van sy oë af en sien hier kom die jakkals.
Hy klim van die bakkie se kant af en trap binne in die bak. Hy buk om sy hand op die kant te sit, om te
kan afspring. In die haastigheid druk en skeef op die bak en verloor sy balans.
Hy slaan neer langs die bakkie en vlieg op.
“Maak gou oom. Hy gaan wegkom,” roep die kinders. Oom Sarel hardloop om
die bakkie en spring voor in.
“Maak los die honde!” skree hy en start die bakkie. Die enjin brul. Toe
hy wegtrek, spring Zola af. Die jakkals is nou by hulle. Oom Sarel skraap die
jakkals met die bakkie en Zola sien hom. Sy vlieg weg en oom Sarel skop ankers
vas. Die ander honde spring ook af toe hy ankers skop. Die jakkals hardloop nie
verder as vyftig treë by hulle verby nie.
Zola is dadelik op sy hakke. Sy maak haar eerste draai met die jakkals.
Toe is die ander by en hulle maak hom klaar.
Almal is in ekstase. Die kinders lag lekker vir oom Sarel se duikslag
van die bakkie af, veral vir daardie grasieuse beweging voordat hy kop eerste
die grond getref het. “Toe hy opspring
het hy weer oor sy voete gestruikel en geval,” sê hulle. Iets wat hy natuurlik
heeltemal ontken. Hy het net gesukkel om
uit die blokke te kom, meen hy. Daar was
seker ‘n bietjie gom wat hom vasgehou het aan die grond.
Hulle skater lag gaan oor in bewondering van dit wat hulle nou net
beleef het. ‘n Jakkals hardloop gewoonlik wind af sodat hy sy agtervolgers kan
bly ruik. Die een het windop gekom. Sy
het gewag totdat die aanjaers by haar was aan die kant van die bosse voordat sy
uit die bosse laat spaander het. Dit was ‘n uitsonderlike gebeurtenis. Twee dinge was anders vandag. Die eerste is
die jakkals het baie lank in die bosse bly wag voor sy uitgekom het. Die ander
is dat sy wind op gekom het.
Wys jou net. Net as jy begin dink jy kan vir die jakkals voorskryf hoe
hy moet hardloop en wat hy moet doen, verras hy jou. Hy is en bly ‘n
opportunis. Hy vat elke kans wat hy kry
om jou te verras. Ons kan nie altyd voorskryf hoe dinge in die toekoms sal
verloop nie.
Ons mense het partykeer baie vooropgestelde idees. Ons besluit vooraf hoe dinge moet verloop en
is dan kwaad en ongelukkig as dit nie so gebeur nie. Ons sê baie keer iets sal nie werk nie. Dan probeer ons ook niks om dit te laat werk
nie. Dan sê ons ewe beter weterig : “Ek het jou mos gesê dit sal nie werk nie.”
Die keer is oom Sarel verkeerd bewys en die kinders kon self al die
aksie saam met hom beleef. Dit was nogal
die moeite werd om vroeg op te staan om ‘n lekker storie te kry om vir pa en ma
in die bed te vertel. Hulle was nou weer
reg om Gauteng in die oë te kyk.
No comments:
Post a Comment