Monday, 1 October 2012

Slim vang sy baas


SLIM VANG SY BAAS

Dis Vrydag aand. Dis Winter. Dis vrek koud. Christof en Magdel het saam met hulle ouers van die Kaap af kom oorslaap op Palmietpan.  Almal is bly om mekaar te sien toe hulle tien uur die aand afklim. Oom Louis, hulle pa is ‘n domineer in Gauteng. Hy sê dadelik met die afklim slag dat hulle more oggend vroeg weer in die pad gaan val.  Hy is haastig.  Hy preek weer die volgende dag en hulle kan nie te laat by die huis kom nie.

Oom Sarel het ander planne.  Hulle gaan môre oggend vroeg jakkals jag op Veekraal.  Die kinders moet saam.  Dan kan pa en ma eers ‘n bietjie wettiglik laat lê voor hulle ry.

Die jakkals het weer by oom Piet ‘n paar lammers gevang.  Hy is raadop en hulle kan kom help. Die twee kan beslis nie die jagtog misloop nie! Pa en ma kan ‘n bietjie laat slaap môre want hulle het baie ver gery vandag – dan kan die twee nog hulle jagtog inkry saam met oom Sarel.  Gelukkig stem hulle ouers in.

Die kinders is dadelik opgewonde.  Hulle sien uit na die jag.  Dis ‘n baie avontuurlike gedagte vir hulle om in die veld te kan wees as die son opkom. Die familie kuier lekker die aand saam en bring al die nuus van die Kaap tot in Gauteng op datum.  Die kinders gaan slaap vroeg en sorg dat al hulle warm klere uitgepak is vir more oggend.  Pa brom kamtig omdat hy vroeg wou ry en nou sal moet wag tot hulle terug is van die jag.

Dis nog donker toe die wekker lui.  Hulle staan op en begin al die lae klere aantrek. Dis omtrent al die warm klere wat hulle saam gebring het. Dit gaan baie koud wees.  Hulle drink ‘n koffetjie. Toe is hulle reg vir die dag se gebeure.  Hulle sorg dat elke hond se halsband reg is.  Toe hulle by die deur uitstap, is dit snerpend koud.  Daar is ‘n ysige Ooste windjie wat waai. Van daardie winde wat deur jou klere sny soos ‘n warm mes deur botter.  Hulle is dadelik bly dat hulle warm genoeg aangetrek het.

Christof gaan maak die honde se hok oop.  Die honde is baie bly om die familie te sien en weet dadelik wat wag.  Die honde hardloop rond en spring teen die kinders op. Hulle blaf en gaan te kere.  Dis ‘n groot opgewondenheid.  Oom Sarel sê net: “Klim op!” toe is almal op die bakkie. Almal sien uit na die jag. Daar trek hulle!

Hulle ontmoet oom Piet hulle langs die Bultfontein pad en vertrek na hulle voorstaan plekke. Hulle gaan eerste jag by oom Hannes se bossies.  Die son is net besig om op te kom, toe hulle op hulle staanplek aankom.  Dis vrek koud. Die windjie sny reg deur jou.  Hulle sorg dat die honde mooi vas is en klim agter op die bakkie. Dis ysig. Gelukkig het hulle onthou om hulle handskoene aan te trek.  Elkeen kry ‘n plek om dop te hou. Vanmôre sal hulle nie dat die jakkals by hulle verby kom nie.

Oom Sarel staan agter op die kant van die bakkie om verder te kan sien.  Hy moet mooi staan om hom te balanseer op die agterkant van die bak. Oom Piet ry nog na sy staan plek, toe oom Sarel sê: “Pietjie sal vanmôre moet keer. Die jakkalse gaan wind af hardloop en dan kom hulle reg by hom uit. Ons sal vanoggend net kyk hoe die ander jaag”.

Die aanjaers begin klap met die swepe en raas. Vanoggend roer daar niks uit die bos nie. Dit lyk of alles te koud kry om ‘n voet te versit uit die bos uit. Die aanjaers kom al nader en nader. Nog bly alles doodstil.  Oom Sarel hou die plek voor hulle met die verkyker dop.  “Jy moenie jou aandag verslap nie, dan kom die jakkals weg,” sê hy.

Die eerste aanjaers kom later al uit die kant van die bos gestap. Oom Sarel trek weer die verkyker van regs na links.  Hy kan sy oë nie glo nie. Twee honderd treë voor hulle kom die jakkals aangehardloop, reg op hulle af.  Hy ruk die verkyker van sy oë af en sien hier kom die jakkals.

Hy klim van die bakkie se kant af en trap binne in die bak.  Hy buk om sy hand op die kant te sit, om te kan afspring. In die haastigheid druk en skeef op die bak en verloor sy balans. Hy slaan neer langs die bakkie en vlieg op.  “Maak gou oom. Hy gaan wegkom,” roep die kinders. Oom Sarel hardloop om die bakkie en spring voor in.

“Maak los die honde!” skree hy en start die bakkie. Die enjin brul. Toe hy wegtrek, spring Zola af. Die jakkals is nou by hulle. Oom Sarel skraap die jakkals met die bakkie en Zola sien hom. Sy vlieg weg en oom Sarel skop ankers vas. Die ander honde spring ook af toe hy ankers skop. Die jakkals hardloop nie verder as vyftig treë by hulle verby nie.

Zola is dadelik op sy hakke. Sy maak haar eerste draai met die jakkals. Toe is die ander by en hulle maak hom klaar.  Almal is in ekstase. Die kinders lag lekker vir oom Sarel se duikslag van die bakkie af, veral vir daardie grasieuse beweging voordat hy kop eerste die grond getref het.  “Toe hy opspring het hy weer oor sy voete gestruikel en geval,” sê hulle. Iets wat hy natuurlik heeltemal ontken.  Hy het net gesukkel om uit die blokke te kom, meen hy.  Daar was seker ‘n bietjie gom wat hom vasgehou het aan die grond.

Hulle skater lag gaan oor in bewondering van dit wat hulle nou net beleef het. ‘n Jakkals hardloop gewoonlik wind af sodat hy sy agtervolgers kan bly ruik.  Die een het windop gekom. Sy het gewag totdat die aanjaers by haar was aan die kant van die bosse voordat sy uit die bosse laat spaander het. Dit was ‘n uitsonderlike gebeurtenis.  Twee dinge was anders vandag. Die eerste is die jakkals het baie lank in die bosse bly wag voor sy uitgekom het. Die ander is dat sy wind op gekom het.

Wys jou net. Net as jy begin dink jy kan vir die jakkals voorskryf hoe hy moet hardloop en wat hy moet doen, verras hy jou. Hy is en bly ‘n opportunis.  Hy vat elke kans wat hy kry om jou te verras. Ons kan nie altyd voorskryf hoe dinge in die toekoms sal verloop nie.

Ons mense het partykeer baie vooropgestelde idees.  Ons besluit vooraf hoe dinge moet verloop en is dan kwaad en ongelukkig as dit nie so gebeur nie.  Ons sê baie keer iets sal nie werk nie.  Dan probeer ons ook niks om dit te laat werk nie. Dan sê ons ewe beter weterig : “Ek het jou mos gesê dit sal nie werk nie.”

Die keer is oom Sarel verkeerd bewys en die kinders kon self al die aksie saam met hom beleef.  Dit was nogal die moeite werd om vroeg op te staan om ‘n lekker storie te kry om vir pa en ma in die bed te vertel.  Hulle was nou weer reg om Gauteng in die oë te kyk.

Hier is een vir jou - vang hom!


HIER IS EEN VIR JOU – VANG HOM

Dit is stil die middag. Daar is nie ‘n windjie wat roer nie.  Oom Sarel staar voor hom uit.  Dis heerlike sonnig.  Alles lyk so pragtig en rustig.  Oom Piet is nog besig om na sy voorstaan plek te ry by oom Hannes se bossies.  Pieter het al klaar agter op sy bakkie geklim en staan die wêreld en dophou deur die verkyker.  Die jag het begin.

“Hy moes vandag ‘n ander tou gevat het om die honde mee vas te maak.  Die kort toutjie kan hom nog laat sukkel. Gelukkig is die honde goed geleer. Hy sal ‘n plan moet maak as die jakkals vandag by hom uitkom,” dink oom Sarel.

Hy maak Basjan en Janna aan mekaar vas.  Die jakkals kan maar vandag by Pieter of oom Piet gaan uit hardloop.  Dan hoef hy nie te sukkel nie, dink hy.  Hy kyk rustig van hoek tot kant in die deel wat hy moet dophou.  As die jakkals hier uitkom, moet hy net nie wegkom  nie.  Oom Sarel raak verdiep in sy eie gedagtes.  Hy konsentreer om seker te maak dat niks sy blik ontglip nie.

Die swepe begin klap. Die aanjaers begin luidkeëls met Vossie te praat.  Hulle vertel hom hy moet homself uit die voete maak as hy vandag nie moeilikheid wil hê nie.  ‘n Steenbok kom verby gehardloop.  Oom Sarel praat met die honde en hulle laat hom verbygaan. Die spanning is besig om op te laai.

Hulle het al twee keer weer hier kom jakkals soek die afgelope tyd maar sonder sukses.  Die jakkals bly lastig en vang gereeld by oom Piet. Hulle was altyd in die verlede baie gelukkig hier – omtrent nie een keer gekom sonder dat hulle iets gevang het nie.  Hulle sukkel nou die afgelope tyd. Jy weet later nie meer waar om te gaan soek nie. Sy gevoel is dat hy nie vandag sal hoef te jaag nie. Die ander manne gaan die sports hanteer.

Hy kyk links om te sien wat met Pieter en oom Piet aan die gang is. Hy ruk soos hy skrik.  Hier kom Pieter aangejaag met sy honde op ‘n streep agterna.  Die jakkals is honderd treë voor hom en loop dat hy bars.  Jy hoor net die bakkie se enjin brul. Pieter ry behendig tussen die mierhope en erdvark gate deur.  Bles, sy windhond is besig om in te kom op die jakkals. Hulle is nou al besig om agter oom Sarel verby te hardloop.

Oom Sarel spring op om die honde los te maak.  Hulle het die tou so opgewen dat hy nie die punt kan loskry nie. Hy ruk en pluk aan die tou. Alles tevergeefs! Hy soek die punt, maar dis weg! Dis ingevleg tussen die voue van die tou. Al wat oorbly is om die een hond se halsband oor sy kop te trek. Dis nie so maklik nie. Hulle het die jaery gesien en spook nou om los te kom.  Daar bars ‘n hewige gestoei op die bakkie los.  Die honde wil loskom en hulle baas wil hulle losmaak.  Hulle is elkeen so besig om sy eie ding te doen dat die honde kan loskom, dat niks gebeur nie.

Die honde sien die jakkals en wil net afklim.  Hulle kan niks maak as hulle nie eers los is nie.  Pleks dat hulle net ‘n oomblik staan dat oom Sarel hulle kan help. Nee, hulle is so angstig dat hulle nie gehelp wil word nie.

Gelukkig kry oom Sarel, Basjan se halsband oor sy kop getrek.  Janna gee hom nie kans om syne ook af te kry nie. Hy spring oor die kant van die bakkie en daar gaan hy!  Hy loop dat hy klein word met die tou en Basjan se halsband wat heen en weer rondswaai.  Bles het al sy eerste draai met die jakkals gemaak.  Hy kan die jakkals net nie inloop en vat nie. 

Janna laat nie met hom speel nie.  Hy peil reg op die jakkals af.  Die jakkals probeer nog wegswenk, maar Janna vat hom dat hulle rol.  Bles is by en hulle doen hulle werk om seker te maak dat hy nie weer een van oom Piet se lammers sal vang nie.

“Dis nou wat ek noem mededeelsaamheid,” sê oom Sarel.  Pieter is ‘n goeie ou.  Hy hou nie al die plesier vir homself nie.  Die jakkals het reg op hom afgehardloop. Oom Sarel het niks eers gesien nie.   Pieter het die jakkals aangekeer na oom Sarel toe. Oom Sarel het nie eers nodig gehad om sy bakkie te verskuif nie.  Pieter het die jakkals nader gebring.  Al wat hy moes doen was om die honde los te maak en te kyk wat gebeur.  Pieter het besluit: “Die een is vir jou – vang hom!” 

Die net wat ons gespan het, het weer gewerk. Die jakkals het nie weggekom nie.  Goeie spanwerk en samewerking gee die deurslag.  Jy moenie probeer om altyd alles op jou eie te doen. Gee ander ook ‘n kans om te help. Dan is die gedeelde vreugde soveel meer.

Grant se groot dag


GRANT SE GROOT DAG

Bennie, jy moet die jong honde vanoggend mooi vashou.  Kyk dat hulle nie afspring of raas terwyl ons ry nie.  Vandag moet daardie jakkals nie wegkom nie.  Oom Sarel is vasbeslote dat hierdie jakkals wat ons so grys hare gee, vandag in die stof moet byt.  Hulle het nou lank genoeg met hom gesukkel!  Hulle kry hom in die nag met die wit lig, dan sien jy net sy oë een keer, dan is hy weg. 

Roep jy hom met die roep apparaat, kom hy nie.  Jy sien miskien een keer sy oë blink dan is dit klaarpraat. Hy kom nie nader nie.  Voor jy hom kan skiet, is hy weg.  Hy het al twee keer op vanoggend se voorstaan plek by ander deurgeglip. 

Vanoggend is dit hulle beurt om hier voor te staan in die vlaktes voor Claremont se bosse.  Pieter is weg vir die naweek en hulle moet vandag sy plek volstaan. Die aanjaers is min en staan nogal wyd uitmekaar die oggend. Nie juis ‘n digte net om van te praat nie.  “ Die jakkals kan vanoggend weer deurglip as hulle nie wakker is nie,” besef oom Sarel.

Bennie kyk dat die honde mooi vas is, toe hulle op hulle staanplek kom. Hy maak seker dat hy die knoop van die tou maklik sal loskry as die jakkals kom. Hulle is wakker vanoggend. Niks sal hier ongesiens verby kom nie.

Na ‘n rukkie hoor hulle die aanjaers se swepe in Morestêr klap.  Hulle stemme dreun in die verte. Vanoggend wil die verkyker net nie ‘n jakkals raak kyk nie. Later sien hulle al die aanjaers oor die bult kom, maar daar is nog geen jakkals in sig nie.  Ander oom Sarel, oom Piet se broer, wat die aanjaers na die jag moet gaan oplaai, kom ook al aangery maar jakkals se kind bly weg.

Skielik roep Bennie: ”Daar is hy!”  Die jakkals klim ses hondred treë van hulle af op ‘n mierhoop. Sy lyf blink in die son.  Hy skyn spierwit in die son.  Hy kyk terug na die aanjaers.  Hy is nie veel met hulle gepla nie.  Hy klim rustig van die mierhoop af en begin draf in die rigting van Claremont se bosse waar sy wegkruip plek is.  Vyftig treë verder klim hy weer op ‘n mierhoop om die aanjaers beter te kan sien.  Hulle teenwoordigheid ontstel hom nie veel nie.

Oom Sarel sê:” As hy weer op ‘n mierhoop klim, jaag ons hom”.  Hy is driehonderd treë anderkant die draad.  Hulle is ook driehonderd treë duskant die draad. As hulle nou na hom toe jaag, hardloop hy net verder wegvan die draad af. Hulle sal hom niks kan maak nie.  Die draad gaan hulle keer. Die honde sal hom nie kan sien nie want hy sal te ver wees.

Hulle hou die omgewing angstig dop. Waar is hy dan? Hoekom sien hulle hom nie weer nie? Hy het intussen padgegee bosse se kant toe. Toe hulle hom weer sien, het hy vyfhonderd treë verder verskuif. “Klim en hou die honde vas,” skreeu oom Sarel.  Die bakkie se enjin word gestart en daar gaan hulle. Hulle jaag na die draad toe en toe al langs die draad in die plaaspaadjie af.  Die erdvark het plek plek gate in die pad gegrawe. Dan ry hulle in die pad en dan uit die pad om die gate te ontduik. Op hierdie stadium ry hulle al in derde rat.  Ietwat te vinnig vir die plaaspad.  Hulle jaag by die kamp se hek uit en vat die pad reguit bosse toe.

Skielik roep Bennie: ”Ry oom, ry! Daar is hy! Daar voor!”  Op hierdie stadium loop die blou bakkie oop en toe.  Jy sou kon dink hy ry op ‘n teerpad.  (As jy vinnig genoeg deur die hobbels in die pad ry, kom jy dit nie eers agter dat hulle daar is nie.)  ‘n Erdvark gat voel soos ‘n meerkat gat as jy vinnig genoeg deur hom ry!

Bennie skreeu weer: ”Daar is hy daar voor.  Hy gaan wegkom! Oom moet ry!” Die jakkals staan en vergaap hom aan die bakkie wat so lekker aangery kom.  Van wanneer af is hier nou ‘n grootpad in die veld dat die ou so kan jaag?  Waar gaan hy in elk geval so haastig heen?

Die volgende oomblik sit oom Sarel sy voet op die briek.  Hy is honderd treë van die jakkals af. Buks kan nie wag nie.  Hy spring af.  Die bakkie se spoed is nog te hoog.  Hy val dat hy aangerol kom. Oom Sarel haal weer sy voet van die briek af. Die jakkals draai om en hardloop reg weg van die bakkie af. Hy sien die bakkie is op hom en swenk uit die pad uit, deur die draad op pad bosse toe.

Oom Sarel trap die briek plat.  Die bakkie skuif tot stilstand in ‘n stofwolk.  Die volgende oomblik breek Buks se kinders soos ‘n brander oor die bakkie se kant.  Grant is eerste af.  Hy is dadelik deur die draad met Shirley kort op sy hakke.  Hy loop so effens onder die ander honde uit.  Hulle sukkel nog eers om deur die draad te kom. Die bosse kom vinnig nader.  Wie gaan wen? Gaan hulle dit maak of gaan die jakkals weereens wegkom? Gaan die bosse hom die keer red?

Die keer is die jakkals nie weer so gelukkig nie.  Hy het hom misreken met Palmietpan se Bontspan.  Grant loop hom net voor die eerste bosse in.  Hy vat die jakkals op sy rug. Hulle val dat die stof staan. Toe die jakkals opstaan, vat Shirley hom aan sy keel. Sy dae is getel.  Hy sal nie weer een van oom Piet se lammers eet nie.

Nadat hulle die jakkals gevang het, was dit weer ‘n lang tyd stil met die vangery by die skape. Die swêrnoot het hulle baie laat sukkel.

Glorie en neerlaag, hoogtepunte en laagtepunte is deel van die lewe.  Presies ‘n week later het hulle vir Grant begrawe.  Hy was maar een jaar oud.  Hy het sy eerste en enigste jakkals vir sy oubaas gevang.  Hy het soveel potensiaal gehad, maar net een geleentheid om te wys wat in hom steek. Tog het hy ook ‘n verskil gemaak.  Ons sal hom altyd onthou.

Grant het die volgende dag siek geword aan katgriep en bosluis koors.  Ons kon dit nie keer nie. Die katgriep het oorgesit in hondesiekte. Met hartseer het ons hom die volgende week in die honde “helde akker” van Palmietpan begrawe.  Hy was ook een van van Palmietpan se grotes.

Sonja! Sonja Sonsie!


SONJA ! SONJA! SONSIE!

Die selfoon begin rittel en beef op die tafel.  Eensklaps breek sy luitoon deur. Dit lyk of die luitoon “jumping” in sy lyf ingetrek het.  Hy spring as’t ware rond op die tafel. Marlie spring op: “Oupa die selfoon lui!”

Dis oom Piet. Hy sê hulle moet kom help voorstaan. Hulle gaan weer jakkalsjag by tant Rina se rantjies.  Hulle moet asseblief kom help!  Die jakkals het weer laasnag twee lammers by oom Piet gevang. Oom Jan, Marlie se oom, wil ook saamgaan. Hulle reël om hom by Trudie, Marlie se ma se winkel in Hertzogville op te laai.  Hy en Marlie gaan saam voorstaan met Basjan vandag.

Die honde blaf opgewonde en hardloop rond, toe hulle sien daar gaan gery word.  Rekker hardloop en spring op en af en draai in die ronde.  Hy gee sulke opgewonde kort blaffies.  Dis aksie tyd! Toe oom Sarel sê: ”Op,” spring almal opgewonde op die bakkie. Hulle stamp en stoot om die beste staanplek te kry.  Oom Sarel sit die honde se toue aan en daar gaan hulle.  Jagveld toe!

Hulle kom by Houmoed aan en die jagters en aanjaers se opdragte word gegee. Hulle  laai die honde af by die hek langs die pad.  Hulle hardloop ‘n wye draai en snuif die lug. Na ‘n kilometer of wat, laai hulle die honde weer op.  Hulle word nou vasgemaak sodat hulle nie kan afspring om hase of bokke te jaag nie. Daar is nie tyd om te speel nie.  Hulle kragte word gespaar vir beter dinge.

Oom Sarel, Marlie se oupa, word afgelaai by die eerste hek.  Rekker jag vandag saam met hom.  Hy hou niks van die idee om alleen agter te bly toe die bakkie vertrek nie.  Hy ruk en pluk aan die tou.  Miskien is die aksie daar voor en dan kan hy dit dalk misloop. Hy sal wat wil gee om deel te wees van enige jaagtog.

Marlie en oom Jan staan so twee honderd treë weg van oom Sarel af.  Hulle het vir Basjan by hulle.  Hulle staan verder weg sodat hulle ‘n tweede lyn van verdediging kan vorm. As die jakkals by die ander verby kom, kom hy reg op hulle af. Dan kan hulle nog keer.

Rekker bly onrustig.  Hy kyk rond en luister.  Hy weet daar is aksie op pad.  Oom Sarel hulle het al ‘n paar jakkalse hier gevang waar hy staan vandag. Dis een van jakkalse se geliefkoosde plekke om uit te hardloop.  Jakob staan vyf honderd treë verder weg.  Hy het vir Sonja en Sareltjie van oom Piet by hom.  Oom Pieter staan nog anderkant Jakob.

Sonja is die ma van die windhonde Basjan en Janna.  Op haar dag was sy die een wat altyd die jakkalse gevang het, as daar gejag word.  Sy is baie sterk en atleties gebou.  Sy kan baie vinnig hardloop.  Sy staan ook aandagtig en luister hoe die aanjaers nader kom.  Die swepe klap en hulle skree vir die vale.

Basjan staan met sy voorpote op die mierhoop om beter te kan sien.  Hy is die ene ore en oë.  Elke geluidjie en beweging word fyn dopgehou.  Hy verstyf skielik.  Daar is ‘n beweging by die draad so twee honderd treë van hom af.  Hy sien die beweging in die lang gras, maar kan nie uitmaak wat dit is nie. Sy hart begin bons.  Sy hart klop so hard dat jy elke slag kan hoor.  Marlie sien wat gebeur!  Hulle kyk ook aandagtig en hou ook die beweging in die gras versigtig dop.  Hulle wil nie dat die jakkals vandag by hulle vrykom nie.

Daar is ‘n gespanne afwagting in die lug. Oom Jan kyk wat maak die ander voorstaners.  Hulle lyk nog rustig.  Dit lyk asof niemand onraad gemerk het nie. Almal staan doodstil op hulle plekke. Marlie voel hoe die spanning in haar oplaai.  Slaap die ander dan?  Kan hulle nie sien wat besig is om te gebeur nie? Wat gemaak as dit die jakkals is?  Sal hulle betyds vir Basjan kan los? Sal hy die jakkals alleen kan vang?  Die vrae maal in haar gedagtes. 

Die ding daar ver in die gras is skielik weg.  Sy kan hom nie meer sien nie. Wat kon gebeur het?  Sy weet nie wat sy sal sê as sy die jakkals gesien en laat wegkom het nie?  Sy sal nie die spot kan verduur nie!  Sy is te bang om met oom Jan te praat.  Sê net die jakkals hoor haar en hardloop weg?  Sy voel hoe haar hart ook vinnig bons, nog vinniger as Basjan s’n.

Waar is daardie ding? Skielik vlieg daar ‘n korhaan op met sy kenmerkende geskreeu. Marlie wip behoorlik soos sy skrik.  Sy kyk vinnig vir Basjan en oom Jan.  Hulle aandag is steeds op die plek  waar die beweging die laaste keer gesien is.  Het hulle dan niks gehoor nie, wonder sy?  Die afwagting maak haar gedaan. Sy kan die spanning amper nie meer vat nie. Sy voel lus en hardloop nader en skreeu vir Basjan:” CHAAAUUUW!!!”

Sy kyk vinnig rond. Oupa Sarel het gesê die jakkals kan van enige kant af kom.  Sy moet nie net een plek kyk nie. Sy gee die jagveld voor haar ‘n vinnnige kyk. Toe is haar aandag weer by daardie kol gras met die beweging….. maar almal staan nog botstil en op hulle plekke.

Doodsluiters kom die duiker uit die kol gras gestap.  Sy lyf blink in die middag son. Hy kyk rustig om hom rond.  Hy vat ‘n stadige draffie en galop dan grasieus tussen die aanjaers deur.  Marlie en oom Jan  slaak ‘n sug van verligting.  Basjan trek vies aan die tou. Hy is lus en gaan boender daardie bok op.  Soveel spanning vir net ‘n ou bok!  Hy gee fyn tjankies terwyl die bok weghardloop.

“As die bokke eers verby is, kom die jakkals,” hoor Marlie weer haar oupa sê.  Sy kyk vinnig rond.  Alles is nog doodstil.   Die aanjaers kom al oor die rantjie gestap. Sy kan hulle al sien. Daar is een, twee, drie …. Vandag is ons voor dooiemans deur, dink Marlie.  Hoekom het ek tog saamgekom?  Ek kon net sowel by die huis gebly het en TV gekyk het. Dit was sommer ‘n stupid idee om te kom.  Al wat nou nog oorbly is om die aanjaers op te laai en huistoe te gaan.  Dit was nou ‘n simpel mors van tyd!

Die volgende oomblik breek daar pandemonium los.  Sy sien net hoe oom Pieter agter van sy bakkie afspring en voor in die bestuuskajuit  inhop.  Sy hoor hoe die enjin aangesit word.  Dit brul en die bakkie spring in ‘n stofwolk weg. Hy draai links en kom skuins nou haar toe aangejaag. Jakob het ook gedink alles is oor en hy het al sy staanplek verlaat.  Hy het sy honde gelos en hulle kom aangehardloop na Marlie hulle toe weg van die jaagtog af. 

Sy spring op die mierhoop naby haar om beter te kan sien wat oom Pieter so jaag.  Sy kan nie mooi sien wat aangaan nie want die gras is te lank.  Die groen trok brul. Jy sien net stof en graspolle trek soos hy tussen die mierhope deur vleg.  Die honde tjank en gaan te kere agter op sy bakkie.  Hulle pluk aan die toue, maar sonder sukses. Hulle wil net afkom en daardie jakkals, wat voor hulle hardloop in die hande kry.

Tinkie het hulle so styf vasgemaak dat hy hulle nie kan loskry nie.  Hy wou seker maak dat hulle nie kan bokke jaag nie.  Oom Pieter skop die brieke dat hulle kan afklim.  Daar gebeur niks.  Hy sien hoe die spasie tussen hom en die jakkals weer groter word.  Hy vlieg weer weg en jaag verder agter die jakkals aan.

Jakob staan magteloos en toekyk hoe die jakkals nie ver van hom af verby hardloop nie. Hy kan niks doen nie. Sy twee honde het al by oom Jan hulle uitgekom en staan daar aan Basjan en ruik.  Die volgende oomblik hoor die honde die trok jaag. Hulle kyk aandagtig wat gebeur.  Sareltjie besef eerste daar is sports aan die gang.  Hy begin nader hardloop.  Toe is die wedloop aan die gang. Sonja het ook besef wat aan die gang is.  Oom Pieter het nou ‘n tweede keer gestop en sy honde is nou afgegooi.  Die jakkals maak sulke windmaker draaie met hulle.  Dit lyk of hy hulle loop en spot.  Hulle kan hom net nie inloop en vang nie.  Oom Pieter se honde het gister ‘n draaijakkals in die klippe gejaag.  Hulle lywe en voete is styf en seer.  Ou Zola was ook by op die bakkie.  Sy is al te oud.  As sy net jonger was, het sy hierdie jakkalsie ingeloop en hom gev…….

Pieter sien hoe hy die jakklas gaan verloor.  Sy honde kan die jakkals net nie vang nie. Deksels!!!  Hy besluit om die jakkals met die trok te keer. Miskien sal die honde bykom en hom tog in die hande kry.  Hy moet gou speel en die jakkals van die draad af wegkeer. As die jakkals eers deur die draad is, kan hyself nie meer die honde help nie. Dan kan nog net die honde hom vang.

Hy sit nog so en planne maak, toe kom Sonja van die kant af aangeblits soos ‘n grys Ferrari op ‘n renbaan.  Dit lyk of die ander honde vasgemaak is.  Sareltjie lê oop agter haar.  Miskien sal hulle die jakkals kan keer voor hy deur die draad is! 

Die jakkals sien hulle kom uit die hoek van sy oog en verander rigting.  Sy stert staan stokstyf reguit soos hy hardloop.  Vandag word daar nie gespeel nie. Die ander honde kom tevergeefs op ‘n streep agter hom aan.  Hy is besig om vir hulle weg te hardloop. Hy moet net die draad kan haal. Dan is hy vry!

Sonja loop ‘n barshou!  Sy was nie verniet ‘n kampioen in een honde reisies op Hertzogville se skou nie.  Vandag is daar nie tyd vir speletjies nie.  Dis nou doodsake.  Sy loop die jakkals in dat dit lyk of sy handbriek opgetrek is. Sy kom in en skep na hom. Hy maak ‘n vinnige swenkslag en hardloop weer onder haar uit. Sy loop hom weer in en vat hom op sy kruis.  Hulle val en rol. Sy hou steeds vas toe hulle opstaan. Hy hap na haar om hom los te byt.  Hy is te laat. Hy het klaar sy laaste lam gevang!  Die ander honde kom ook nou by en hulle maak hom klaar.

Oom Sarel het die spul sien gebeur en kom stadig aangestap na Marlie hulle toe.  Sy vertel opgewonde wat gebeur het.  Hulle kyk na die aanjaers.  Diè is nie meer ver nie.  Dit was lekker! Almal babbel en vertel hulle weergawe van die storie.

Toe hulle terugry besef Marlie dit was nou spanwerk.  Elkeen het sy kant gebring. Oom Pieter het alleen die jakkals gesien.  Die jakkals  het tussen hom en Jakob deurgekom.  Jakob het onwetend die honde te gou gelos dat hulle na Marlie hulle toe kon gaan. Hy het gedink die jag is verby.  Sareltjie en Sonja het gelukkig betyds besef wat gebeur het.  As dit nie vir hulle was nie, het die jakkals dalk weggekom.  Oom Pieter se span was te oorhoeks om alleen die jakkals te vang.

Gelukkig is daar in ‘n span verband altyd iemand wat kan help as daar verbrou is.  Jakob wou net so graag die jakkals vang. Dit sou help nie nou om met hom te baklei omdat hy ‘n fout gemaak het nie. Volgende keer sal hy beter kyk voordat hy sy honde los om van hom af pad te gee.

Vanaand is die lammers tydelik weer veilig op Donkerfontein tot die volgende jakkals kom. Marlie is baie trots op Sonja. By die huis gooi sy vir haar hond ekstra pille in haar bak.  Toe haar ma by die huis kom, kon sy nie meer langer stilbly nie. Sy moes die hele storie haarfyn hoor.