HIER IS EEN VIR JOU – VANG HOM
Dit
is stil die middag. Daar is nie ‘n windjie wat roer nie. Oom Sarel staar voor hom uit. Dis heerlike sonnig. Alles lyk so pragtig en rustig. Oom Piet is nog besig om na sy voorstaan plek
te ry by oom Hannes se bossies. Pieter
het al klaar agter op sy bakkie geklim en staan die wêreld en dophou deur die
verkyker. Die jag het begin.
“Hy
moes vandag ‘n ander tou gevat het om die honde mee vas te maak. Die kort toutjie kan hom nog laat sukkel.
Gelukkig is die honde goed geleer. Hy sal ‘n plan moet maak as die jakkals
vandag by hom uitkom,” dink oom Sarel.
Hy
maak Basjan en Janna aan mekaar vas. Die
jakkals kan maar vandag by Pieter of oom Piet gaan uit hardloop. Dan hoef hy nie te sukkel nie, dink hy. Hy kyk rustig van hoek tot kant in die deel
wat hy moet dophou. As die jakkals hier
uitkom, moet hy net nie wegkom nie. Oom Sarel raak verdiep in sy eie
gedagtes. Hy konsentreer om seker te
maak dat niks sy blik ontglip nie.
Die
swepe begin klap. Die aanjaers begin luidkeëls met Vossie te praat. Hulle vertel hom hy moet homself uit die
voete maak as hy vandag nie moeilikheid wil hê nie. ‘n Steenbok kom verby gehardloop. Oom Sarel praat met die honde en hulle laat
hom verbygaan. Die spanning is besig om op te laai.
Hulle
het al twee keer weer hier kom jakkals soek die afgelope tyd maar sonder
sukses. Die jakkals bly lastig en vang
gereeld by oom Piet. Hulle was altyd in die verlede baie gelukkig hier –
omtrent nie een keer gekom sonder dat hulle iets gevang het nie. Hulle sukkel nou die afgelope tyd. Jy weet
later nie meer waar om te gaan soek nie. Sy gevoel is dat hy nie vandag sal
hoef te jaag nie. Die ander manne gaan die sports hanteer.
Hy
kyk links om te sien wat met Pieter en oom Piet aan die gang is. Hy ruk soos hy
skrik. Hier kom Pieter aangejaag met sy
honde op ‘n streep agterna. Die jakkals
is honderd treë voor hom en loop dat hy bars.
Jy hoor net die bakkie se enjin brul. Pieter ry behendig tussen die
mierhope en erdvark gate deur. Bles, sy
windhond is besig om in te kom op die jakkals. Hulle is nou al besig om agter
oom Sarel verby te hardloop.
Oom
Sarel spring op om die honde los te maak.
Hulle het die tou so opgewen dat hy nie die punt kan loskry nie. Hy ruk
en pluk aan die tou. Alles tevergeefs! Hy soek die punt, maar dis weg! Dis
ingevleg tussen die voue van die tou. Al wat oorbly is om die een hond se
halsband oor sy kop te trek. Dis nie so maklik nie. Hulle het die jaery gesien
en spook nou om los te kom. Daar bars ‘n
hewige gestoei op die bakkie los. Die
honde wil loskom en hulle baas wil hulle losmaak. Hulle is elkeen so besig om sy eie ding te
doen dat die honde kan loskom, dat niks gebeur nie.
Die
honde sien die jakkals en wil net afklim.
Hulle kan niks maak as hulle nie eers los is nie. Pleks dat hulle net ‘n oomblik staan dat oom
Sarel hulle kan help. Nee, hulle is so angstig dat hulle nie gehelp wil word
nie.
Gelukkig
kry oom Sarel, Basjan se halsband oor sy kop getrek. Janna gee hom nie kans om syne ook af te kry
nie. Hy spring oor die kant van die bakkie en daar gaan hy! Hy loop dat hy klein word met die tou en
Basjan se halsband wat heen en weer rondswaai.
Bles het al sy eerste draai met die jakkals gemaak. Hy kan die jakkals net nie inloop en vat nie.
Janna
laat nie met hom speel nie. Hy peil reg
op die jakkals af. Die jakkals probeer
nog wegswenk, maar Janna vat hom dat hulle rol.
Bles is by en hulle doen hulle werk om seker te maak dat hy nie weer een
van oom Piet se lammers sal vang nie.
“Dis
nou wat ek noem mededeelsaamheid,” sê oom Sarel. Pieter is ‘n goeie ou. Hy hou nie al die plesier vir homself
nie. Die jakkals het reg op hom
afgehardloop. Oom Sarel het niks eers gesien nie. Pieter het die jakkals aangekeer na oom
Sarel toe. Oom Sarel het nie eers nodig gehad om sy bakkie te verskuif
nie. Pieter het die jakkals nader
gebring. Al wat hy moes doen was om die
honde los te maak en te kyk wat gebeur.
Pieter het besluit: “Die een is vir jou – vang hom!”
Die
net wat ons gespan het, het weer gewerk. Die jakkals het nie weggekom nie. Goeie spanwerk en samewerking gee die
deurslag. Jy moenie probeer om altyd
alles op jou eie te doen. Gee ander ook ‘n kans om te help. Dan is die gedeelde
vreugde soveel meer.
No comments:
Post a Comment