Monday, 1 October 2012

Grant se groot dag


GRANT SE GROOT DAG

Bennie, jy moet die jong honde vanoggend mooi vashou.  Kyk dat hulle nie afspring of raas terwyl ons ry nie.  Vandag moet daardie jakkals nie wegkom nie.  Oom Sarel is vasbeslote dat hierdie jakkals wat ons so grys hare gee, vandag in die stof moet byt.  Hulle het nou lank genoeg met hom gesukkel!  Hulle kry hom in die nag met die wit lig, dan sien jy net sy oë een keer, dan is hy weg. 

Roep jy hom met die roep apparaat, kom hy nie.  Jy sien miskien een keer sy oë blink dan is dit klaarpraat. Hy kom nie nader nie.  Voor jy hom kan skiet, is hy weg.  Hy het al twee keer op vanoggend se voorstaan plek by ander deurgeglip. 

Vanoggend is dit hulle beurt om hier voor te staan in die vlaktes voor Claremont se bosse.  Pieter is weg vir die naweek en hulle moet vandag sy plek volstaan. Die aanjaers is min en staan nogal wyd uitmekaar die oggend. Nie juis ‘n digte net om van te praat nie.  “ Die jakkals kan vanoggend weer deurglip as hulle nie wakker is nie,” besef oom Sarel.

Bennie kyk dat die honde mooi vas is, toe hulle op hulle staanplek kom. Hy maak seker dat hy die knoop van die tou maklik sal loskry as die jakkals kom. Hulle is wakker vanoggend. Niks sal hier ongesiens verby kom nie.

Na ‘n rukkie hoor hulle die aanjaers se swepe in Morestêr klap.  Hulle stemme dreun in die verte. Vanoggend wil die verkyker net nie ‘n jakkals raak kyk nie. Later sien hulle al die aanjaers oor die bult kom, maar daar is nog geen jakkals in sig nie.  Ander oom Sarel, oom Piet se broer, wat die aanjaers na die jag moet gaan oplaai, kom ook al aangery maar jakkals se kind bly weg.

Skielik roep Bennie: ”Daar is hy!”  Die jakkals klim ses hondred treë van hulle af op ‘n mierhoop. Sy lyf blink in die son.  Hy skyn spierwit in die son.  Hy kyk terug na die aanjaers.  Hy is nie veel met hulle gepla nie.  Hy klim rustig van die mierhoop af en begin draf in die rigting van Claremont se bosse waar sy wegkruip plek is.  Vyftig treë verder klim hy weer op ‘n mierhoop om die aanjaers beter te kan sien.  Hulle teenwoordigheid ontstel hom nie veel nie.

Oom Sarel sê:” As hy weer op ‘n mierhoop klim, jaag ons hom”.  Hy is driehonderd treë anderkant die draad.  Hulle is ook driehonderd treë duskant die draad. As hulle nou na hom toe jaag, hardloop hy net verder wegvan die draad af. Hulle sal hom niks kan maak nie.  Die draad gaan hulle keer. Die honde sal hom nie kan sien nie want hy sal te ver wees.

Hulle hou die omgewing angstig dop. Waar is hy dan? Hoekom sien hulle hom nie weer nie? Hy het intussen padgegee bosse se kant toe. Toe hulle hom weer sien, het hy vyfhonderd treë verder verskuif. “Klim en hou die honde vas,” skreeu oom Sarel.  Die bakkie se enjin word gestart en daar gaan hulle. Hulle jaag na die draad toe en toe al langs die draad in die plaaspaadjie af.  Die erdvark het plek plek gate in die pad gegrawe. Dan ry hulle in die pad en dan uit die pad om die gate te ontduik. Op hierdie stadium ry hulle al in derde rat.  Ietwat te vinnig vir die plaaspad.  Hulle jaag by die kamp se hek uit en vat die pad reguit bosse toe.

Skielik roep Bennie: ”Ry oom, ry! Daar is hy! Daar voor!”  Op hierdie stadium loop die blou bakkie oop en toe.  Jy sou kon dink hy ry op ‘n teerpad.  (As jy vinnig genoeg deur die hobbels in die pad ry, kom jy dit nie eers agter dat hulle daar is nie.)  ‘n Erdvark gat voel soos ‘n meerkat gat as jy vinnig genoeg deur hom ry!

Bennie skreeu weer: ”Daar is hy daar voor.  Hy gaan wegkom! Oom moet ry!” Die jakkals staan en vergaap hom aan die bakkie wat so lekker aangery kom.  Van wanneer af is hier nou ‘n grootpad in die veld dat die ou so kan jaag?  Waar gaan hy in elk geval so haastig heen?

Die volgende oomblik sit oom Sarel sy voet op die briek.  Hy is honderd treë van die jakkals af. Buks kan nie wag nie.  Hy spring af.  Die bakkie se spoed is nog te hoog.  Hy val dat hy aangerol kom. Oom Sarel haal weer sy voet van die briek af. Die jakkals draai om en hardloop reg weg van die bakkie af. Hy sien die bakkie is op hom en swenk uit die pad uit, deur die draad op pad bosse toe.

Oom Sarel trap die briek plat.  Die bakkie skuif tot stilstand in ‘n stofwolk.  Die volgende oomblik breek Buks se kinders soos ‘n brander oor die bakkie se kant.  Grant is eerste af.  Hy is dadelik deur die draad met Shirley kort op sy hakke.  Hy loop so effens onder die ander honde uit.  Hulle sukkel nog eers om deur die draad te kom. Die bosse kom vinnig nader.  Wie gaan wen? Gaan hulle dit maak of gaan die jakkals weereens wegkom? Gaan die bosse hom die keer red?

Die keer is die jakkals nie weer so gelukkig nie.  Hy het hom misreken met Palmietpan se Bontspan.  Grant loop hom net voor die eerste bosse in.  Hy vat die jakkals op sy rug. Hulle val dat die stof staan. Toe die jakkals opstaan, vat Shirley hom aan sy keel. Sy dae is getel.  Hy sal nie weer een van oom Piet se lammers eet nie.

Nadat hulle die jakkals gevang het, was dit weer ‘n lang tyd stil met die vangery by die skape. Die swêrnoot het hulle baie laat sukkel.

Glorie en neerlaag, hoogtepunte en laagtepunte is deel van die lewe.  Presies ‘n week later het hulle vir Grant begrawe.  Hy was maar een jaar oud.  Hy het sy eerste en enigste jakkals vir sy oubaas gevang.  Hy het soveel potensiaal gehad, maar net een geleentheid om te wys wat in hom steek. Tog het hy ook ‘n verskil gemaak.  Ons sal hom altyd onthou.

Grant het die volgende dag siek geword aan katgriep en bosluis koors.  Ons kon dit nie keer nie. Die katgriep het oorgesit in hondesiekte. Met hartseer het ons hom die volgende week in die honde “helde akker” van Palmietpan begrawe.  Hy was ook een van van Palmietpan se grotes.

No comments:

Post a Comment