SONJA
! SONJA! SONSIE!
Die
selfoon begin rittel en beef op die tafel.
Eensklaps breek sy luitoon deur. Dit lyk of die luitoon “jumping” in sy
lyf ingetrek het. Hy spring as’t ware
rond op die tafel. Marlie spring op: “Oupa die selfoon lui!”
Dis
oom Piet. Hy sê hulle moet kom help voorstaan. Hulle gaan weer jakkalsjag by
tant Rina se rantjies. Hulle moet
asseblief kom help! Die jakkals het weer
laasnag twee lammers by oom Piet gevang. Oom Jan, Marlie se oom, wil ook
saamgaan. Hulle reël om hom by Trudie, Marlie se ma se winkel in Hertzogville
op te laai. Hy en Marlie gaan saam
voorstaan met Basjan vandag.
Die
honde blaf opgewonde en hardloop rond, toe hulle sien daar gaan gery word. Rekker hardloop en spring op en af en draai
in die ronde. Hy gee sulke opgewonde
kort blaffies. Dis aksie tyd! Toe oom
Sarel sê: ”Op,” spring almal opgewonde op die bakkie. Hulle stamp en stoot om
die beste staanplek te kry. Oom Sarel
sit die honde se toue aan en daar gaan hulle.
Jagveld toe!
Hulle
kom by Houmoed aan en die jagters en aanjaers se opdragte word gegee.
Hulle laai die honde af by die hek langs
die pad. Hulle hardloop ‘n wye draai en
snuif die lug. Na ‘n kilometer of wat, laai hulle die honde weer op. Hulle word nou vasgemaak sodat hulle nie kan
afspring om hase of bokke te jaag nie. Daar is nie tyd om te speel nie. Hulle kragte word gespaar vir beter dinge.
Oom
Sarel, Marlie se oupa, word afgelaai by die eerste hek. Rekker jag vandag saam met hom. Hy hou niks van die idee om alleen agter te
bly toe die bakkie vertrek nie. Hy ruk
en pluk aan die tou. Miskien is die
aksie daar voor en dan kan hy dit dalk misloop. Hy sal wat wil gee om deel te
wees van enige jaagtog.
Marlie
en oom Jan staan so twee honderd treë weg van oom Sarel af. Hulle het vir Basjan by hulle. Hulle staan verder weg sodat hulle ‘n tweede
lyn van verdediging kan vorm. As die jakkals by die ander verby kom, kom hy reg
op hulle af. Dan kan hulle nog keer.
Rekker
bly onrustig. Hy kyk rond en
luister. Hy weet daar is aksie op
pad. Oom Sarel hulle het al ‘n paar
jakkalse hier gevang waar hy staan vandag. Dis een van jakkalse se geliefkoosde
plekke om uit te hardloop. Jakob staan
vyf honderd treë verder weg. Hy het vir
Sonja en Sareltjie van oom Piet by hom.
Oom Pieter staan nog anderkant Jakob.
Sonja
is die ma van die windhonde Basjan en Janna.
Op haar dag was sy die een wat altyd die jakkalse gevang het, as daar
gejag word. Sy is baie sterk en atleties
gebou. Sy kan baie vinnig hardloop. Sy staan ook aandagtig en luister hoe die
aanjaers nader kom. Die swepe klap en
hulle skree vir die vale.
Basjan
staan met sy voorpote op die mierhoop om beter te kan sien. Hy is die ene ore en oë. Elke geluidjie en beweging word fyn
dopgehou. Hy verstyf skielik. Daar is ‘n beweging by die draad so twee
honderd treë van hom af. Hy sien die
beweging in die lang gras, maar kan nie uitmaak wat dit is nie. Sy hart begin
bons. Sy hart klop so hard dat jy elke
slag kan hoor. Marlie sien wat
gebeur! Hulle kyk ook aandagtig en hou
ook die beweging in die gras versigtig dop.
Hulle wil nie dat die jakkals vandag by hulle vrykom nie.
Daar
is ‘n gespanne afwagting in die lug. Oom Jan kyk wat maak die ander
voorstaners. Hulle lyk nog rustig. Dit lyk asof niemand onraad gemerk het nie.
Almal staan doodstil op hulle plekke. Marlie voel hoe die spanning in haar
oplaai. Slaap die ander dan? Kan hulle nie sien wat besig is om te gebeur
nie? Wat gemaak as dit die jakkals is?
Sal hulle betyds vir Basjan kan los? Sal hy die jakkals alleen kan
vang? Die vrae maal in haar
gedagtes.
Die
ding daar ver in die gras is skielik weg.
Sy kan hom nie meer sien nie. Wat kon gebeur het? Sy weet nie wat sy sal sê as sy die jakkals
gesien en laat wegkom het nie? Sy sal
nie die spot kan verduur nie! Sy is te
bang om met oom Jan te praat. Sê net die
jakkals hoor haar en hardloop weg? Sy
voel hoe haar hart ook vinnig bons, nog vinniger as Basjan s’n.
Waar
is daardie ding? Skielik vlieg daar ‘n korhaan op met sy kenmerkende geskreeu.
Marlie wip behoorlik soos sy skrik. Sy
kyk vinnig vir Basjan en oom Jan. Hulle
aandag is steeds op die plek waar die
beweging die laaste keer gesien is. Het
hulle dan niks gehoor nie, wonder sy?
Die afwagting maak haar gedaan. Sy kan die spanning amper nie meer vat
nie. Sy voel lus en hardloop nader en skreeu vir Basjan:” CHAAAUUUW!!!”
Sy
kyk vinnig rond. Oupa Sarel het gesê die jakkals kan van enige kant af
kom. Sy moet nie net een plek kyk nie.
Sy gee die jagveld voor haar ‘n vinnnige kyk. Toe is haar aandag weer by
daardie kol gras met die beweging….. maar almal staan nog botstil en op hulle
plekke.
Doodsluiters
kom die duiker uit die kol gras gestap.
Sy lyf blink in die middag son. Hy kyk rustig om hom rond. Hy vat ‘n stadige draffie en galop dan
grasieus tussen die aanjaers deur.
Marlie en oom Jan slaak ‘n sug
van verligting. Basjan trek vies aan die
tou. Hy is lus en gaan boender daardie bok op.
Soveel spanning vir net ‘n ou bok!
Hy gee fyn tjankies terwyl die bok weghardloop.
“As
die bokke eers verby is, kom die jakkals,” hoor Marlie weer haar oupa sê. Sy kyk vinnig rond. Alles is nog doodstil. Die aanjaers kom al oor die rantjie gestap.
Sy kan hulle al sien. Daar is een, twee, drie …. Vandag is ons voor dooiemans
deur, dink Marlie. Hoekom het ek tog
saamgekom? Ek kon net sowel by die huis
gebly het en TV gekyk het. Dit was sommer ‘n stupid idee om te kom. Al wat nou nog oorbly is om die aanjaers op
te laai en huistoe te gaan. Dit was nou
‘n simpel mors van tyd!
Die
volgende oomblik breek daar pandemonium los.
Sy sien net hoe oom Pieter agter van sy bakkie afspring en voor in die
bestuuskajuit inhop. Sy hoor hoe die enjin aangesit word. Dit brul en die bakkie spring in ‘n stofwolk
weg. Hy draai links en kom skuins nou haar toe aangejaag. Jakob het ook gedink
alles is oor en hy het al sy staanplek verlaat.
Hy het sy honde gelos en hulle kom aangehardloop na Marlie hulle toe weg
van die jaagtog af.
Sy
spring op die mierhoop naby haar om beter te kan sien wat oom Pieter so
jaag. Sy kan nie mooi sien wat aangaan
nie want die gras is te lank. Die groen
trok brul. Jy sien net stof en graspolle trek soos hy tussen die mierhope deur
vleg. Die honde tjank en gaan te kere
agter op sy bakkie. Hulle pluk aan die
toue, maar sonder sukses. Hulle wil net afkom en daardie jakkals, wat voor
hulle hardloop in die hande kry.
Tinkie
het hulle so styf vasgemaak dat hy hulle nie kan loskry nie. Hy wou seker maak dat hulle nie kan bokke
jaag nie. Oom Pieter skop die brieke dat
hulle kan afklim. Daar gebeur niks. Hy sien hoe die spasie tussen hom en die
jakkals weer groter word. Hy vlieg weer
weg en jaag verder agter die jakkals aan.
Jakob
staan magteloos en toekyk hoe die jakkals nie ver van hom af verby hardloop
nie. Hy kan niks doen nie. Sy twee honde het al by oom Jan hulle uitgekom en
staan daar aan Basjan en ruik. Die
volgende oomblik hoor die honde die trok jaag. Hulle kyk aandagtig wat
gebeur. Sareltjie besef eerste daar is
sports aan die gang. Hy begin nader
hardloop. Toe is die wedloop aan die
gang. Sonja het ook besef wat aan die gang is.
Oom Pieter het nou ‘n tweede keer gestop en sy honde is nou
afgegooi. Die jakkals maak sulke
windmaker draaie met hulle. Dit lyk of
hy hulle loop en spot. Hulle kan hom net
nie inloop en vang nie. Oom Pieter se
honde het gister ‘n draaijakkals in die klippe gejaag. Hulle lywe en voete is styf en seer. Ou Zola was ook by op die bakkie. Sy is al te oud. As sy net jonger was, het sy hierdie
jakkalsie ingeloop en hom gev…….
Pieter
sien hoe hy die jakklas gaan verloor. Sy
honde kan die jakkals net nie vang nie. Deksels!!! Hy besluit om die jakkals met die trok te
keer. Miskien sal die honde bykom en hom tog in die hande kry. Hy moet gou speel en die jakkals van die
draad af wegkeer. As die jakkals eers deur die draad is, kan hyself nie meer
die honde help nie. Dan kan nog net die honde hom vang.
Hy
sit nog so en planne maak, toe kom Sonja van die kant af aangeblits soos ‘n
grys Ferrari op ‘n renbaan. Dit lyk of
die ander honde vasgemaak is. Sareltjie
lê oop agter haar. Miskien sal hulle die
jakkals kan keer voor hy deur die draad is!
Die
jakkals sien hulle kom uit die hoek van sy oog en verander rigting. Sy stert staan stokstyf reguit soos hy
hardloop. Vandag word daar nie gespeel
nie. Die ander honde kom tevergeefs op ‘n streep agter hom aan. Hy is besig om vir hulle weg te hardloop. Hy
moet net die draad kan haal. Dan is hy vry!
Sonja
loop ‘n barshou! Sy was nie verniet ‘n
kampioen in een honde reisies op Hertzogville se skou nie. Vandag is daar nie tyd vir speletjies nie. Dis nou doodsake. Sy loop die jakkals in dat dit lyk of sy
handbriek opgetrek is. Sy kom in en skep na hom. Hy maak ‘n vinnige swenkslag
en hardloop weer onder haar uit. Sy loop hom weer in en vat hom op sy
kruis. Hulle val en rol. Sy hou steeds
vas toe hulle opstaan. Hy hap na haar om hom los te byt. Hy is te laat. Hy het klaar sy laaste lam
gevang! Die ander honde kom ook nou by
en hulle maak hom klaar.
Oom
Sarel het die spul sien gebeur en kom stadig aangestap na Marlie hulle
toe. Sy vertel opgewonde wat gebeur
het. Hulle kyk na die aanjaers. Diè is nie meer ver nie. Dit was lekker! Almal babbel en vertel hulle
weergawe van die storie.
Toe
hulle terugry besef Marlie dit was nou spanwerk. Elkeen het sy kant gebring. Oom Pieter het
alleen die jakkals gesien. Die
jakkals het tussen hom en Jakob
deurgekom. Jakob het onwetend die honde
te gou gelos dat hulle na Marlie hulle toe kon gaan. Hy het gedink die jag is
verby. Sareltjie en Sonja het gelukkig
betyds besef wat gebeur het. As dit nie
vir hulle was nie, het die jakkals dalk weggekom. Oom Pieter se span was te oorhoeks om alleen
die jakkals te vang.
Gelukkig
is daar in ‘n span verband altyd iemand wat kan help as daar verbrou is. Jakob wou net so graag die jakkals vang. Dit
sou help nie nou om met hom te baklei omdat hy ‘n fout gemaak het nie. Volgende
keer sal hy beter kyk voordat hy sy honde los om van hom af pad te gee.
Vanaand
is die lammers tydelik weer veilig op Donkerfontein tot die volgende jakkals
kom. Marlie is baie trots op Sonja. By die huis gooi sy vir haar hond ekstra
pille in haar bak. Toe haar ma by die
huis kom, kon sy nie meer langer stilbly nie. Sy moes die hele storie haarfyn
hoor.
No comments:
Post a Comment