BUKS DIE OUBAAS SE WITBROOD.
Zola en Ciska is al amper ‘n jaar oud toe Buks gebore
is. By die tyd is hulle baie lekker
bedrewe jaghonde. Hulle is vinnig en byt
goed. Toe oom Sarel hoor daar is weer
klein hondjies by oom Buks, bestel hy dadelik weer een. Daar is ‘n reuntjie beskikbaar en hy is te
bly om nog ‘n hondjie te kry. Hy word dadelik Buks gedoop, vernoem na die teler
van wie hy af kom.
Buks is net so ‘n wit bont hond soos sy sussie Zola. ‘n Hond met die beste geaardheid denkbaar.
Altyd lief vir sy huismense, ‘n kwaai waghond en ‘n uitstekende jagter. Dit maak nie saak waar oom Sarel is nie, as
Buks hom sien, kom hy dadelik om eers vir sy oubaas liefdetjies te gee.
Hy geniet dit as jy hom sulke sagte houtjies agter sy blad
slaan. Dan lê hy teen jou bene en skuur hom teen jou. In die Winter vat hy jou
aan jou baadjie se mou en loop stert in die lug saam met jou. Hy is baie gehoorsaam en van vroeg af kan jy
net praat, hy luister.
Buks en sy Jack Russell maatjie, Boesie het saam groot
geword. Hulle kan ure aaneen met mekaar speel. Dan jaag hulle mekaar. Dan byt
die een die ander. So het hulle hulle ure lank vermaak. Hulle groot maatjie was Tsierie, die
stokstert meerkat. Die drie het dit
baie geniet om saam te speel. Die ander
honde was maar vies vir die meerkat.
Cindy en Sonja het sommer gou verkas stoor toe om haar aandag te
ontduik.
Die meerkat was nogal geniepsig met die honde. Net Buks en
Boesie het dit geniet om met haar te speel.
Volgens hulle was sy pret. Sy sou met haar rug na hulle toe, nader kom.
Dan byt sy hulle so van die kant af. Hulle byt haar op haar rug. As hulle haar
te seer byt, spring sy weg om net weer met ‘n draai nader te kom. As sy regtig vir hulle kwaad was, het sy
hulle aan die neus gegryp en hard gebyt.
Dan was daar net honde trane.
Haar grootste plesiertjie in die lewe was om ‘n hond wat lê
en slaap in die son, te bekruip en ‘n harde byt te gee. Sodra die hond opspring om haar by te kom,
het sy klaar in ‘n veilige plek geskuil.
Buks is van kleins af vir min dinge in die lewe bang. Sy groot vrees is egter om van die bakkie af
te klim. Later kan hy al self opspring.
As jy hom van die bakkie af wil kry, moet jy hom af tel. Hy is al ‘n knaap van nege maande en ry
gereeld saam.
Een aand vat hulle hom ook weer saam Bosplaat toe. Hulle
gaan weer jakkals soek die aand. Hy bly
maar lastig die jakkals. Bosplaat is ook oom Sarel se plaas wat aan Palmietpan
grens. Hulle ry nog so lekker langs die
land met Smutsvinger gras. Skielik skree
Philip ry pa! Kom links! Oom Sarel gee
vet en draai links. In die ligte van die
bakkie sien hy iets in die langs gras hardloop.
Die groot honde is dadelik af. Die ding draai skerp voor hulle. In die bakkie se ligte sien oom Sarel dis ‘n
maanhaar. “Vat weg die lig!” skree hy. Hulle stop dadelik en maak die ligte
dood om die maanhaar te laat wegkom.
In die donker misreken hy hom met die honde. Hy draai om en storm een van hulle. Dit is sy grootste fout. Hulle pak hom. Voordat daar gekeer kan word, is die skade
klaar gedoen. Buks staan nog altyd op
die bakkie. Hulle laai hom af. Hy
hardloop nader om te gaan help. Dis sy
eerste keer wat hy by is met iets anders as ‘n springhaas. Hy staan te naby en
die maanhaar vat hom aan die bo lip. Hy
tjank droewig maar die maanhaar hou. Die
ander trek die maanhaar heen en weer rond.
Hy is magteloos en drentel droewig agterna. Hy tjank dat jy hom wie weet waar kan hoor.
Die ou maanhaar los hom. Buks is nou die vieste in. Hy spring tussen die ander honde in en begin
verwoed byt aan die maanhaar. Die ou
maanhaar is later al lankal dood, maar hy en Bruno van Jaco kan nie ophou om hom te byt nie. Oom Sarel hulle besluit later om te ry. Hulle laai vir Buks en die maanhaar op, maar
hy hou nie op byt nie. Na twee kilometer
se gery sê Philip dis nou genoeg en hy keer vir Buks.
Buks het sy eerste groot toets met ‘n A+ geslaag. Dis nie elke hondjie van nege maande wat na
so ‘n bytslag sou inklim en veg nie.
Selfs baie groot honde sou alles net so los en op die bakkie spring. Nie
Buks nie!
Buks is besig om by die dag al meer in sy baas se hart te
kruip. Hy doen al die regte dinge om sy
oubaas tevrede te stel. Die jakkals pla
weer op Palmietpan. Philip hulle vat die
honde en gaan ry weer een aand by die Witbult.
Dis ‘n heerlike koel Somersaand en hulle besluit om vir Buks ‘n bietjie
oefening te gee. Hulle kry ‘n haas in
die paadjie en laai vir Buks af. Hy sien die haas en daar trek hulle. Buks is nog baie lomp maar hy los nie die
haas nie. Elke keer loop hy die haas in.
As die haas draai, is Buks nog baie lomp. Hy vat lank om te draai en die haas
weer in te loop. Los, los hy nie die haas nie! Toe oom Sarel sien hy gaan die
haas nou vang, vat hulle die lig weg en roep hom terug. Hulle prys hom baie en laai hom op. Hy is uit asem en baie opgewonde.
Dieselfde proses word met ‘n tweede haas herhaal. Buks gee net nie moed op nie. Hy hou net aan
en aan die haas jaag. Voor hy die haas kon laat skade kry, laai hulle hom weer
op. Die hondjie weet nie van moed opgee
nie.
Hulle kry ‘n haas op Pieter se landjie agter sy huis. Dis
die derde een vir die aand. Hy sit twee honderd treë die land in. Philip roep vir Buks en hy gaan om die haas
vir Buks op te jaag. Buks hardloop
vooruit, reg op die haas af. Daar trek
hy weer agter sy derde haas aan. Hy draai die haas en keer hom bakkie se kant
toe. Die haas spring deur die draad in
die harde veld in. Die veld is lekker
kort en die haas maak skoon met Buks agterna. Buks vat drie draaie met die haas
en tel hom op. AHA! Sy eerste haas. Oom Sarel en Philip wens mekaar geluk. Hulle
is baie in hulle skik met die jong hond.
Al het hy twee hase verloor, het hy aangehou om die derde een te jaag
totdat hy hom vang.
Dit laat ‘n mens dink aan die gesegde van “aanhouer
wen”. Miskien sou ons ook kon sê: “ As
jy glo jy kan, kan jy!” dis die
uiteindelike verskil tussen sukses en neerlaag. Glo in jouself lank genoeg en
jy kan sukses behaal. Glo in jouself
totdat jy die kans kry om te wys wat in jou steek. Of nog beter: “Glo in jouself al glo niemand
in jou nie”. Buks het hom nie laat afsit
deur sy omstandighede nie. Hy het net sy
beste bly doen en hy is beloon.
BUKS
JOU DORING!
Sonja en Cindy was nog twee van die Bontspan se honde op
Palmietpan. Oom Sarel het hulle in
Boshof by ‘n teler gaan uitsoek. Hulle was ‘n bietjie ouer as Buks. Dit het tyd geword om te kyk of die twee
“tande” het. Oom Sarel hulle gaan ry
weer een aand. Hulle vat net die drie
jong honde die aand. Hulle gaan drink eers tee by Pieter en Eileen op
Donkerfontein. Hulle verkoop ‘n paar
slim stories en toe is dit jagveld toe.
Buks word vasgemaak en die twee jong windhond sussies, staan los agter
op die bakkie. Dis eksamen tyd vir die
twee vanaand.
Philip sorg dat hy al die hase mis lig. Hy soek vanaand ‘n
maanhaar. Die ou is sommer mak die
aand. Toe die twee sussie by hom afklim,
gee hy nie eens pad nie. Hulle jaag hom
en blaf vir hom en byt na hom. Kort,
kort vlieg hy om en skraap hulle. Hulle
begin al meer moed kry en pla die ou baie.
Hulle is op pad om hom self aan te vat.
Buks kan die gesukkel hier voor hom nie vat nie. Hy gaan te kere agter op die bakkie. Hy ruk en pluk aan die tou. Dan storm hy hierdie kant toe en dan daardie
kant toe. Hy trek skilpad. Woeps! glip
sy halsband oor sy kop.
Hy spring van die bakkie af en storm die jakkals. Die
jakkals is nog besig om met Sonja en Cindy kat en muis te speel. Hy sien vir
Buks en storm hom. Buks skop ankers vas
en laat die maanhaar na hom gryp. Hy ontglip die byt en vat die maanhaar aan
die keel. Daar hou hy totdat die geveg
verby is. Baie jakkalse sou nog op die
manier hulle rieme styf loop. Buks het so pas tien maande oud geword. Buks is ‘n hond duisend.
Maanhaar jakkalse is die boer se grootste vriend. Hulle is een van die min diere en voëls wat
miere vreet. Sonder hulle sal die miere baie skade doen. Hierdie ou maanhaar het die boer gehelp in sy
stryd teen die miere maar ook teen die blourug jakkalse wat jaarliks groot
skade aanrig. Hy het sy eie lewe
opgeoffer in die stryd teen die jakkalse.
Op hierdie stadium het die Bornman familie om Hertzogville
maklik drie honderd lammers in ‘n jaar verloor as gevolg van jakkalse. Dis nie net ‘n ekonomiese verlies vir die
boer nie. Dit ruk jou aan die hart om die verminkte karkassies van klein
lammertjies te sien rondlê. Die ooi blêr
vir dae daarna nog, op soek na haar lam.
Dit maak ‘n mens baie ongelukkig om die lyding te sien. Dit laat jou besef jy moet iets doen om jou
vee te beskerm.
‘n Blourug jakkals vang ten minste elke tweede aand. In die Vrystaat kom hy nie weer terug om sy
ou prooi klaar te vreet nie. Hy vang net
vir hom ‘n vars enetjie. Dis ook nie dat
hy honger ly omdat daar nie hase en springhase is om te vreet nie. Hy loop tussen die goed deur om te gaan
lammers vang. Dit beteken dat een of
twee jakkalse tot honderd en tagtig lammers in ‘n jaar kan vang as hy nie
gekeer word nie.
Die boer moet jag metodes ontwikkel waar hy kan seker maak
dat hy die jakkalse vang wat skade aanrig.
As hy die jakkals nog op heterdaad betrap by die skape, wroeg jy nie so
baie om hom van kant te maak nie.
BUKS
KRY GROOT SKADE
Die jakkals het weer baie skade aangerig op
Donkerfontein. Oom Piet het weer gevra
ons moet kom help om te gaan jakkals soek op Houmoed van oom Dirk Linde. Hulle ry uit met die Helpman pad wat by
Morestêr verby loop. By die vurk anderkant oom Koos Brits se huis, wag hulle
vir mekaar. Oom Piet en Pieter gaan regs
om en Philip en oom Sarel gaan links om.
Oom Sarel en Philip gaan vandag by die garingbome voorstaan.
Die jakkals bly in die rantjie van Houmoed. Sodra hy gepla word, hardloop uit na
Leeufontein se kant toe. Daar is ‘n
draad wat uit die rantjie Noord loop. Hy
hardloop gewoonlik langs die draad af.
Daar word dan ‘n voorstaner op die punt van die draad afgelaai waar die
kamp ‘n hoek maak. Net daar wag hy die jakkals in.
Philip hulle staan vier honderd treë van die hoek af by die punt van die
garings. Daar is nie vandag ‘n
voorstaander om in die hoek te sit nie. Oom Sarel en oom Piet moet self vandag
daar keer. Die aanjaers begin klap.
Philip en oom Sarel kyk deur die verkykers om te sien wat uit die rant
kom. Die gras is lank daar by die draad. Hulle staan nog so en kyk, toe sien hulle oom
Piet jaag van die anderkant af draad se kant toe. Hulle kyk mooi en sien die
jakkals kom hoek toe. Hulle vlieg in die bakkie en laat vat hoek toe om te help
keer. Hulle moet ry om te gaan keer dat
die jakkals nie wegkom vandag nie.
Die jakkals het besluit hy gaan reguit hardloop vir die
hoek. Oom Piet laai jy honde honderd
treë agter hom af. Die gras is baie
lank. Oom Sarel en Philip kom oop en toe
aangejaag hoek toe. Oom Piet se honde kom met die jakkals deur die sloot
honderd treë van die hoek af. Toe die jakkals uit die sloot uitkom, skop hulle
ankers vas. Die honde op die bakkie sien
die jakkals. Die tewe is af. Buks is laaste.
Toe hy grondvat breek hy sy regter agterbeen by die hakskeen sening
morsaf. Hy bly lê en begin dadelik tjank.
Die tewe kyk verskrik om. Hulle draai bang om want hulle
weet nie hoekom tjank Buks dan so nie.
Hulle los die jakkals en kom spring op die bakkie. By die tyd het die
jakkals al tot by die draad gevorder. Hy
draai net effens op sy sy en gly tussen die boonste twee drade deur. Oom Piet se span is ook uit die kuile en lê
oop agter hom. Gonda is vooraan. Sy spring bo-oor die draad en laat waai agter
die jakkals aan. Die ander probeer nog eers deur die draad kruip terwyl die
jakkals vort gaan. Drie honderd treë van
die draad af loop oom Piet se honde hom in en maak hom klaar.
Buks is nou baie jammer vir homself. Hy staan op drie bene.
Sy agterbeen het morsaf gebreek. Dit hang net aan die vel. Daar is nie veel tyd vir verder kuier
nie. Buks moet dokter toe. Hy moet hulp kry voordat hy in ‘n skok
toestand gaan.
Gelukkig is die dokter dadelik beskikbaar. Hy staan hulle en
inwag by sy spreekkamer. Buks word die
nodige medisyne gespuit. Sy been word met gips gespalk. Hy word ‘n goeie pynstiller gespuit en
huistoe gevat. Gelukkig het sy been mooi
herstel. Hierna was hy nie meer bang om
van die bakkie af te spring nie. Dit lyk
of hy die ongeluk wou keer met sy versigtigheid om van die bakkie af te kom in
die verlede.
No comments:
Post a Comment